[Resensie] ‘Beurtkrag’ met heelwat vonke

Beurtkrag (Foto: Facebook)

Beurtkrag (Foto: Facebook)

Ivan Botha en Donnalee Roberts het die spreekwoordelike goudmyn ontdek. Dié akteurs, sáám op die verhoog, se volgehoue sukses om kykers na ʼn produksie te lok deur bloot hul name daaraan te koppel, herinner aan groot name soos dié van Hollywood se kragpaartjies Humphrey Bogart en Bette Davis en Woody Allen en Mia Farrow en ook Suid-Afrika se lieflinge Marius Weyers en Sandra Prinsloo.

Daar is egter veel meer te sê oor die Beurtkrag-akteurs as hul charisma: Dié twee se bemarking vir hul produksies is uitstekend. Daar is immers báie te sê oor die verhouding tussen propvol teatersale en bemarking wat reg gedoen word.

Laasgenoemde het ook ʼn groot rol gespeel in die feit dat hul jongste fliek, Vir altyd, die grootste Afrikaanse lokettreffer nóg was nadat dit meer as R14 miljoen verdien het. Hul vorige fliek, Pad na jou hart, was ewe suksesvol.

Benewens slim bemarkingstrategieë, sal geen akteursduo suksesvol wees om ʼn tweede en selfs derde produksie te laat slaag sonder akteursvernuf nie, en daarvan het hulle ook meer as genoeg.

Beurtkrag vertel die verhaal van Jasper en Fransie wat saam intrek. Op die eerste aand wat hulle saam in hulle nuwe huis is, is daar beurtkrag in die buurt.

Beurtkrag word ook ʼn metafoor vir hul gemoedstoestand. Dié twee se verhouding beleef ook “beurtkrag”: ʼn onderonsie, wat verhoed kon word, verseker dat byna al die elektrisiteit uit dié verhouding verdwyn.

Die paartjie word gekonfronteer met ʼn eksistensiële krisis: Gaan hulle toelaat dat die beurtkrag in hul verhouding hulle by ʼn stopstraat bring, of gaan hulle, soos wanneer mens in die donker sit, planne maak om weer lig te sien.

Die tema van beurtkrag en liefdesrusies loop parallel. Kleinlikhede tussen paartjies, soos aan wie die flitslig nou regtig behoort, en dan weer aan wie dit behoort wanneer dit buite werking is, sorg vir komiese oomblikke.

Die spot word gedryf met die vrou wat soms ʼn neulpot kan wees, nog nie voorheen die woord “oond” gesê het nie omdat sy nie vreeslik lief is vir kook nie, bekgevegte tussen man en vrou en ʼn man wat tipies dinge tot op nommer nege-en-negentig nie ernstig opneem nie omdat hy eintlik wil pret hê.

Dit is egter nie waar dit eindig nie. Albei karakters kry diepte namate die stuk momentum kry, en bevestig die teaterganger se behoefte aan ʼn ideale droomwêreld wanneer die held sy streke stopsit, na wense begin optree en die mat onder die heldin se voete uitruk.

Sonder om té ernstig te raak, takel die stuk ook die realiteit van misdaad. “Ons het nou al reeds na die suburbs getrek; wat meer kan ons doen om veilig te voel,” vra Fransie as die huis se alarm begin skree.

Die stel- en ligontwerp vir Beurtkrag is uitmuntend – netjies vergestalt met behulp van verdofde ligte en ʼn paar bokse, om die verhuising voor te stel, tesame met sonkragligte.

Die stuk spog ook met ‘normale’ dialoog. Hoewel die harde woorde, wanneer dit in konteks gesien word, heeltemal gepas is, staan die teaterganger buite die konteks van die liefdesrusie en frons een of twee keer diep vir dié stoute woorde.

Beurtkrag is op Aardklop te sien by die kykNET Gimmiesteater op 7 Oktober om 13:00 en 8 Oktober om 20:00. Kaartjies kos R120 by Computicket.

Beurtkrag was oorspronklik ’n kortfilm wat geskryf is deur die akteur en draaiboekskrywer Stiaan Smith. Hy is by verlede jaar se Silwerskermfees met die prys vir beste teks vir dié film bekroon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Marianne ·

Donnalee en Ivan is finominaal, hulle is beste vriende wat mekaar komplimenteer. Dit skyn helder deur hul produksies deur. Ons land kan trots wees op die twee jong pragtige sterre. Hulle kan net van krag tot krag gaan.

Sandra ·

Ek hoor net wonderlikke kommentaar oor hierdie stuk. Hoop jul gaan bietjie toer dat ons Jan tuisblyertjies ook dit kan sien.

Gerard Rudolf ·

Lekker resensie. Regtig. Maar doen ons ‘n guns en noem die regisseur se naam: Jozua Malherbe.

En wie het die beligtings- en stelontwerp gedoen?

Goeie produksies en goeie konsepte gebeur nie automaties nie. Dis ‘n spanpoging en die akteurs is net deel van ‘n groter span.

Vrede.

walt. ·

Maroela, ek dink die datum in die berig is verkeerd, dit moet seker Oktober wees en nie 7 en 8 Augustus nie.

Oktober ·

Ek dink julle het eintlik bedoel dit is te sien op 7 en 8 Oktober en nie Augustus nie tensy julle reklame doen vir daardie Back to the Future skoene van Nike wat nou weer ‘n verskyning maak? :-)

Landi Slatter ·

Dagsê Oktober en Walt

Dankie vir julle terugvoer! Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.