Ná groot afwagting op die debuutproduksie Bloed en bodem het Stian Bam, Albert Pretorius, Obed de Koker en Carla Smith ʼn staande toejuiging gekry ná hul eerste aanbieding van dié produksie Dinsdagaand op die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom.
Die afwagting het gespruit uit die feit dat die Bloed en bodem-span – regisseur Marthinus Basson en skrywer Marina Albertyn-Struwig – verlede jaar skoonskip gemaak het in die Aardklop-toekennings met hul produksie Melk en vleis, met Illse Roos en Paul du Toit in die hoofrolle.
Bloed en bodem, hoewel donker, diep en geheimsinnig, het ’n splinternuwe konsep wat lewe gee aan die komplekse nalatenskap van Afrikanermans ná die afloop van apartheid.
Bloed en bodem speel af tydens Jana (Carla Smith) se besoek aan haar pa (Albert Pretorius) op hulle familieplaas. Sy studeer landbou op Potchefstroom maar haar geliefde oom Johan (Stiaan Bam) het haar gevra om op die plaas te kom help, omdat haar pa nie meer sy deel doen nie.
Die plaas gaan agteruit en haar pa sit deesdae meer op die kroegstoel as op die kerkbank. Sy dronkenskap is ʼn deurlopende tema. Jana moet in die middel van die dag haar pa se bierbottels optel, en hom wakker en skoon kry sodat die dorpsmense nie snaaks dink nie.
Te midde van haar pa se dronkenskap vergeet hy een aand die veiligheidshek oop, en dit ontaard in ʼn aand wat dié familie nooit sal vergeet nie.
Bloed en bodem hou gehore op die punt van hul stoele met relevante temas oor grense, grond, misdaad en familie. Bam slaan die spyker op die kop met sy eg boereaksent en uitspraak sonder om oorboord te gaan. Pretorius se emosie, en die afwesigheid daarvan wanneer gepas, dra tot ʼn groot mate by tot die gehoor se gevoel en gemoed op kern-oomblikke in die produksie.
Bloed en bodem is relevante produksie in die politieke klimaat van Suid-Afrika in 2018. Dit raak soveel temas aan dat die meeste mense sal kan aanklank vind daarby. Dit is donker, maar belangrik; ondenkbaar, maar die waarheid.
Bloed en bodem is nog te sien in die Banketsaal op 4 Oktober om 15:00, 5 Oktober om
17:30 en 6 Oktober om 10:00. Kaartjies kos R135.
Lyk my almal ry nou die rug van dié
Ek sou dit bitter graag wou sien.
Regtig, is daar dan niks anders buiten gal en braak in Suid-Afrika meer oor nie?
Nee ongelukkig nie. Why don’t You just daily thank whatever you worship that You could escape and stop criticising those of Us trapped here in Hell.
Ek het die vertoning gister gesien en die ontkoping is totaal anders as wat mens verwag. Julle is amal op die verkeerde spoor. Die toneelspel is uitmuntend. Moet asseblief nie kommentaar lewer as julle nie die stuk gesien het nie.