Resensie: DEURnis – ʼn Ervaring vir die fynproewer

Steffie le Roux is te sien in ‘DEURnis’ se stuk ‘Lyf’. Foto: Verskaf.

DEURnis: Plekspesifieke eksperimentele teater. Daagliks tot 27 Oktober. Wrench House, Laer Wrenchweg, Observatory, Kaapstad. Bespreek kaartjies by deurnis.co.za. Geen ingang sonder vooraf bespreking nie.

DEURnis is grootliks ʼn teaterervaring vir die fynproewer wat nie eng dink nie, maar oop is vir nuwe avontuur. Weet die volgende: As jy baie selfbewus is of maklik deur naaktheid of profaniteit ongemaklik gelaat word, is dit beter dat jy liewer ander vermaak vind.

Maar is jy lus om grense uit te daag en skrik jy nie vir interaktiewe, deelnemende een-tot-een teater nie, wag hier ʼn bruisende en uitdagende ervaring op jou.

Die DEURnis-ervaring word nou al ʼn paar jaar lank verfyn. Dit is indiwiduele teater waar jy en die akteur die enigste twee in die vertrek is – ʼn intieme ervaring wat op Engels “immersive theatre” genoem word en waarvoor daar nie eintlik tans ʼn erkende Afrikaanse term is nie.

Miskien is indompelingsteater die beste ekwivalente vorm in die soetste taal, want jy word ondergedompel, ingetrek en emosioneel omgewoel soos deur ʼn fratsgolf in die see. As enigste gehoorlid word jy as’t ware ʼn karakter in die drama – daar word aan jou gevat, met jou gepraat en jy word deel van die dramatiese handeling, en by tye wanneer die genre sy hoogtepuntvlakke toets, deel van die dramatiese ironie. Jy gee van jouself.

So, hoe werk dit? Eerstens is die plek altyd belangrik in plekspesifieke teater. In hierdie geval is dit Wrench House, ʼn pragtige historiese Kaapse huis waar die eerste vryburgers grond van Jan van Riebeeck ontvang het aan die Liesbeekrivier. Die huis is lieflik en die kuns daarin slaan jou asem weg.

Daar is ses aanbiedings van 20 minute elk om van te kies en elkeen speel in ʼn ander vertrek af. Die verhale is uiteenlopend, maar wentel veral om sosiale taboes, trauma (wees gewaarsku, dit kan wonde oopkrap), uitbuiting, die seksuele, selfmoord, samelewingsdrifte en godsdiens. Elke teaterganger het egter die reg om aan te dui as hy of sy verkies om nie fisiek aangeraak te word nie.

Tiaan Nortjie is op die planke in ‘DEURnis’ se ‘Skyn’, ‘n ervaring wat net as indompelingsteater beskryf kan word. Foto: Verskaf.

Uiteraard is die ervarings en inhoud van die ses stukke ongelyk en verskillende teatergangers sal verskillende voorkeure hê – asook verskillende ervarings namate die verhale en aanbiedings die ervarings in jou eie lewe eggo, juis omdat dit sulke indiwiduele en persoonlike teater is.

Die gevaar met sulke teater is dat dit deur die teaterganger as melodramaties ervaar kan word, maar net een van die ses stukke hier ter sprake het na my mening in daardie strik beland.

Die ander vyf stukke het ek as meesterlik ervaar, met twee wat as teaterhoogtepunte my sal bybly. Die akteurs is voortreflik – Afrikaans is so geseënd om hulle te hê. Hulle is tegnies voortreflik, innemend, oortuigend en volkome ingeleef in hul rolle.

Om, benewens die bogenoemde waarskuwing oor naaktheid en profaniteit, op die inhoud van die stukke in te gaan, sou wees om die ervaring te ondergrawe en te misverstaan, so hierdie is nie die plek daarvoor nie. En hoewel elkeen daaroor sou verskil, was die naaktheid en profaniteit myns insiens gemotiveer, binne karakter en dus positief bydraend tot die krag van die impak.

Jy kan dus maar jou selfbewustheid tuis laat, en weet ʼn versterkte bewustheid van self lê vir jou voor – ʼn ontstellende, verrykende ervaring. Vir my was dit ʼn wonderlike en blootstellende belewenis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.