Resensie: Droomkind – oortuigende Bybelstorie in die hart van die Karoo

Bobby van Jaarsveld vertolk in aksie in Droomkind - Die storie van Josef. Foto: Droomkind Facebook-blad.

Bobby van Jaarsveld in aksie in Droomkind – Die storie van Josef. Foto: Droomkind – Die storie van Josef Facebook-blad.

‘n Video van Bobby van Jaarsveld wat oor Droomkind – Die storie van Josef gesels volg onderaan die berig.

Die meeste teaterliefhebbers lig ʼn wenkbrou as hulle hoor dat Bobby van Jaarsveld die rol van die Bybelfiguur Josef in die nuwe teaterproduksie “Droomkind – die verhaal van Josef” vertolk. Maar die prentjie verander as ʼn mens agterkom die Bybelverhaal is vertaal na ʼn hedendaagse, Suid-Afrikaanse konteks waar Bobby die rol speel van Josef Wolmarans, die twaalfde en gunstelingseun van ʼn skaapboer in die Karoo.

“Droomkind – die verhaal van Josef”, wat Sondag in die Staatsteater in Pretoria begin speel het, sit Josef se storie midde-in die Karoo neer. Alles wat Suid-Afrikaners na aan die hart lê, is in die storie ingeweef: Karoo-landskappe; dekor wat tipiese Karoo-boustyl getrou uitbeeld, kompleet met verlepte blommetjies in blombakke op die stoep; skaapboere wat spook met droogtes en goeie pryse vir hul wol; en, helaas, ʼn windpomp en koöperasie.

Hoewel ʼn mens aanvanklik ʼn bietjie skepties is oor hoe suksesvol die Bybelverhaal in ʼn ander konteks vertel kan word, sonder dat die oordrag na ʼn ander milieu kunsmatig voorkom, het die vervaardigers van die produksie dit met sukses reggekry. Die storie wyk net genoeg af van die oorspronklike om dit geloofwaardig te maak sonder dat die essensie en waarhede van die Bybelverhaal verlore raak. Die uiteindelike waarheid van die toneelstuk stem ooreen met sy Bybelse eweknie: God is getrou en Hy ken die groter prentjie, al lyk omstandighede soms asof daar geen uitkoms is nie. En as ʼn mens getrou is aan die droom en visie wat Hy vir jou gegee het, ongeag uitdagings op jou pad of wat mense van jou dink, sal Hy jou seën.

Josef Wolmarans se karakterontwikkeling van ʼn arrogante, bedorwe jong seun wat deur moeilike omstandighede ontwikkel word tot iemand wat met integriteit ʼn verskil in sy land maak, beeld selfs iets van die Bybelkarakter uit wat nie altyd in die Bybelverhaal duidelik na vore kom nie.

Die musiek in die produksie (verwerk deur Matthys Maree) is goed, en is net genoeg dat ʼn mens se aandag nie van die sterk storielyn afgetrek word nie. Die akteurs en sangers in die stuk kwyt hulle goed van hul taak. Die atmosfeer wat met die dekor en ruimte geskep word, is ʼn loutere plesier om na te kyk.

As jy ʼn teaterliefhebber is, moet jy beslis ʼn draai in die teater maak terwyl “Droomkind” nog wys, en neem gerus jou kinders saam. Die stuk is verteerbaar , met net genoeg spanning om jou tot die einde tjoepstil te laat sit.

“Droomkind – die verhaal van Josef” wys nog tot Sondag 4 Mei  in die Staatsteater in Pretoria. Kaartjies is by Computicket beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Geen kommentaar

Landi ·

Dit was awesome!! het dit Saterdag 5 April gekyk 2014.
Julle span is so goed saam en dit praat met jou hart.

Well done julle, hou so aan!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.