[Resensie] Fotostaatmasjien: ’n Kunstige mengelmoes

Anna-Mart van der Merwe is te sien in 'Fotostaatmasjien'.

Anna-Mart van der Merwe is te sien in ‘Fotostaatmasjien’.

Wanneer Anna-Mart van der Merwe, Schalk Bezuidenhout, Emma Kotzé, Devonecia Swartz, Wessel Pretorius en Bibi Slippers saam op ʼn verhoog verskyn, sal jy sommer dadelik weet hier is iets groot aan die kom.

“Fotostaatmasjien” blaas lewe in die gedigte van Bibi Slippers se veelbekroonde digbundel met dieselfde naam.

Hierdie ensemble behels ʼn mengsel van kabaret, revue, satire, beweging, poësie en popmusiek om die gehoor te bederf met iets wat hulle nog nooit vantevore gesien het nie.

Die geselskap van “Fotostaatmasjien” word almal in noupassende swart eenstukke op die verhoog gesien. Slippers se gedigte word uitgelees en opgevoer met behulp van hordes rekwisiete wat op en af van die verhoog gedra word.

Die akteurs en aktrises is nie gebind aan vaste karakters nie, maar laat hulself lei deur die gedig wat voorgedra word.

Swartz het haarself puik van haar taak gekwyt om die gehoor mee te voer met die gedig wat sy op enige gegewe tyd uitvoer, en wanneer dit haar beurt is om te sing, betower sy die gehoor met ʼn pragtige, duidelike en sterk sangstem.

Bezuidenhout bring sy kenmerkende humor na die verhoog en Van der Merwe bring die erns, maar soms ook ʼn speelsheid wat gehore aan hierdie gesoute aktrise se lippe laat hang.

Die regisseur van dié stuk, Pretorius, wat self ook in die produksie te sien is, se uitstekende insig is opvallend in “Fotostaatmasjien”. Terwyl daar verskeie dinge op een slag op die verhoog aan die gang is, bly die produksie steeds samehangend, vermaaklik en snaaks.

Hoewel talle mense kan aanklank vind by die kunstigheid, abstraktheid en uniekheid van “Fotostaatmasjien”, is dit dalk nie vir alle gehore nie.

Dit is nie ʼn toneelstuk met ʼn storielyn om te volg en grappies op die regte tye nie. Die geselskap het nie vaste rolle om te vertolk nie. Dit is ʼn mengelmoes van die kunste op een verhoog, bymekaargebring deur Bibi Slippers se poësie.

“Fotostaatmasjien” is nog vandag te sien op die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom. Kaartjies kos R135 en is beskikbaar by Ticketpro.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.