[Resensie] Gideon Lombard lewer kragtoer in ‘Die reuk van appels’

Gideon Lombard (Foto: Sanmari Marais)

Jou lewe en die goed wat met jou gebeur word tot ʼn groot mate gedefinieer deur die milieu waarin jy jouself bevind. Definisie het te doen met omstandighede en gebeurtenisse en geloofsoortuigings en ʼn rits ander veranderlikes.

Definisie is juis een van die temas wat voorkom in Die reuk van appels, gegrond op Mark Behr se opspraakwekkende roman van 1993 en nou, verwerk deur Johann Smith, met regie deur Lara Bye en Gideon Lombard as akteur, deur Theatrerocket as verhoogproduksie aangebied word.

Dié stuk worstel onder meer met die definisie van manwees én menswees: Sou ʼn seun of man op ʼn sekere manier moet optree en dinge op ʼn sekere manier moet sê of doen om as “ʼn man” gesien te word? En wat as hy nié in dié gietvorm pas nie; sou hy dan nie ʼn man wees nie?

Dis die somer van 1973 – die Koue Oorlog woed en apartheid floreer te midde toenemende kritiek vanuit die buiteland. In die Kaap leer die jong Marnus wat manwees en menswees beteken.

In dié tyd wat hy veronderstel is om “definisies van die lewe te vorm” word hy egter beïnvloed deur ʼn drakoniese bestel: Die apartheidsjare is in sy volle glorie en Marnus word geleer dat “Kleurlinge” nié hemel toe gaan nie – behalwe natuurlik die gesin se huishulp, “want sy is nie soos ander Kleurlinge nie; die Here sal dit raaksien want sy steel nie suiker nie en dan sy sal soos die ander ‘goeie’ Kleurlinge in klein huisies in die hemel bly”.

Dis nie ál wat sy definisievorming beïnvloed nie: Sy pa is ʼn generaal-majoor in die weermag met baie vaste idees oor hoe ʼn seun moet optree of wat ʼn seun moet sê. ʼn Klimaks in die storielyn tussen pa en seun kom wanneer Marnus deur sy pa verneder word omdat hy nie “voor die ander mans” daarin kan slaag om ʼn sandhaai – een wat hy per ongeluk gevang het – uit die water te trek nie. Hy word verskree en oortuig dat ʼn man nié iemand is wat sy pa of vriende sou verneder deur die vis te laat wegkom nie.

Dié verhouding berus egter nie nét op negatiewe aspekte nie: Daar is teer oomblikke tussen pa en seun wanneer sy pa sy skanse laat sak en sy emosies blootlê, maar ongelukkig is dit net om kort daarna Marnus se emosies af te maak as iets onaanvaarbaar vir ʼn man of “bulletjie”.

Gideon Lombard (Foto: Sanmari Marais)

Dis nie nét die definisie van manwees wat roer nie. Dié van hoe een mens veronderstel is om teenoor ʼn ander op te tree, wek ook emosie. Dit kry veral gestalte wanneer ʼn gebroke Marnus nie die optrede van die volwasse mans kan verstaan wanneer ʼn jong gekleurde seun hout steel nie. Hy is geleer oor naasteliefde en vergifnis, maar dié mans se optrede bewys die teendeel. Die kyker wil vra of dié optrede juis nie toegeskryf kan word aan die jong seun se kleur nie en Marnus self wroeg met hoe goddelike liefde beperk kan word tot velkleur.

ʼn Skokkende wending in die verhaal verander alles onherroeplik, en ook die manier waarop hy na die wêreld én na mense kyk. Dit is ʼn beslissende oomblik in Marnus se lewe, maar ook vir die teaterganger: Dit word duidelik hoe volk en vader en vaderland ʼn definisie kan skep wat tot verwoesting kan lei.

Die stuk bring talle vrae na vore: Hoe beïnvloed ek ander met my definisie van die lewe? Hoe is mý definisie van die lewe beïnvloed? Tot watter mate het milieu en omstandighede ʼn invloed op die definisies wat ek vorm? Wie of wat besluit wat die waarheid is?

Lombard se spel is ontroerend – spel waarvoor hy die Kanna vir beste akteur gekry het op vanjaar se KKNK en benoem is vir ʼn Aardklop-prys in dié kategorie.

Hy spring moeiteloos tussen meer as een karakter – iets wat hy onder meer meesterlik vermag met stemtoonverandering. Dis nie om dowe neute nie dat Behr se suster, Elize, Lombard aangeprys het vir dié rol en genoem het dat sy haar broer, wat in 2015 dood is, in sy vertolking kon raaksien nie. Daar is iets aan sy spel in die solostuk – een met minimalistiese uitrustings en rekwisiete – wat die teaterganger meevoer en vasgevang hou in dié wêreld van intrige en verlies.

Die reuk van appels is van 17 Oktober tot 11 November in die Fugard-teater in Kaapstad te sien. Kaartjies is beskikbaar op Computicket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae