[Resensie] Illse Roos, Paul du Toit weergaloos in ‘Melk & Vleis’

Illse Roos, Paul du Toit, Nomkhita Bavuma en Sesethu Zamxaka in ‘Melk & Vleis’ (Foto: Facebook)

Dalk word uitnemende toneelspel en die sukses van ʼn verhoogproduksie gemeet aan dié mate waartoe akteurs daarin slaag om jou as teaterganger mee te voer na ʼn onbekende milieu waarin jy oortuig is dat jy die omstandighede én die stories wel ken.

Dít is wat Illse Roos en Paul du Toit meesterlik doen in Melk & vleis, ʼn verhoogproduksie wat vandeesweek sy debuut op die Aardklop Nasionale Kunstefees gehad het.

Dié produksie, die eerste resultaat wat die teksmark wat verlede jaar in Kaapstad aangebied is opgelewer het, vertel ʼn verhaal van verraad en dood.

Melk & vleis speel af op ʼn Oos-Kaapse melkplaas. Roos se karakter – Medea – het haar onafhanklikheid prysgegee nadat sy verlief geraak het op ʼn sjarmante jong boer. Dit is net ná die einde van apartheid. In baie huise heers hoop – hoop dat die lewe vir talle nou sal verbeter. Maar dié hoop is kortstondig – want hóé kan daar hoop wees as daar nie daadwerklike verandering is nie; as dinge maar net voortploeter op dieselfde wyse as voor Nelson Mandela se presidentskap.

Medea sukkel om by die kleindorpse gemeenskap in te pas. Sy daag die gemeenskap uit om minder konserwatief te dink en daarmee saam takel sy kwessies soos aborsie, die gaping tussen wit en swart en selfs chauvinisme. Sy kry te doen met ʼn rondloperman, vertolk deur Du Toit,wat Bybelse verwysings gebruik om sy egbreuk te verdedig.

Maar sý dag kom en dié hele dorp se dag kom want dié stuk het ʼn dramatiese wending wat géén teaterganger verwag nie.

Roos sowel as Du Toit voer die gehoor mee na dié wêreld – só geloofwaardig dat ʼn mens meer as een keer ʼn vies aanmerking uit die gehoor hoor kom het. Juis omdat teatergangers só beweeg word deur die verhaal. Dit raak bykans onmoontlik om feit van fiksie te onderskei.

Albei akteurs skitter in tonele waar hul karakters moet baklei of hul stemme verhef. Die geloofwaardigheid van hul toneelspel word nie een maal bevraagteken nie en die teaterganger geniet boonop die uitstekende spel só, dat ʼn mens amper-amper wens dat daar nooit vrede in dié huis kom nie sodat die toneelspel uiteraard ook nie tot ʼn einde sou kom nie. Veral die emosiebelaaide tonele soos wanneer Roos se karakter histeries huil of wanneer Du Toit se karakter vir Roosmet sy growwe woorde verpletter, staan bo ander uit.

Nomkhita Bavuma en Sesethu Zamxaka, wat onderskeidelik die rol van die huishulp en haar dogter vertolk, verdien ook vermelding vir hul uitstekende spel. Die akteurs slaag daarin om woede aan te wakker en simpatie te wek oor die onreg wat hul aangedoen word – soos onder meer dat hulle nie uit dieselfde bord mag eet as die “baas” nie.

Twee dele van die dialoog staan veral uit: “Dis nie ʼn man se kop of spiere wat hom sterk maak nie, maar die mense [die samelewing] wat hom die krag gee.” En ook: “Dinge is maar dikwels moeilik as mens die heeltyd tussen agterlikes is.”

Melk & vleis is nog op 8 Oktober op Aardklop te sien in die Weet-en-Sweet-lokaal op die NWU se Potchefstroom-kampus. Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

Aardklop ondersteun die Teaterbystandsfonds – die kunste en vermaaklikheidsbedryf se enigste hulpfonds. As geregistreerde niewinsgewende-organisasie (wat 18 A Belastingaftrekkingsertifikate uitreik) is die TBF  totaal afhanklik van donasies om veral hulpbehoewende bejaarde kunstenaars te onderhou. Jou donasie is die applous wat ʼn lewe kan red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Lucia Schoeman ·

Geen melding word van die dramaturg se naam gemaak nie – is dit nie deel van ‘n volledige resensie nie???

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.