Resensie: Meesleurende ‘Kamphoer’ ʼn móét

Kamphoer met Sandra Prinsloo. Te sien by Aardklop, Potchefstroom, 24 tot 27 September, en in die Baxter-teater, Kaapstad, 9 tot 26 Oktober.

“Ek is Susan Nell,” sê ons voorste aktrise en ons wonderlike reis begin. Die duister wyk, ons kan die toneel op die verhoog inneem. Sandra Prinsloo op die kruin van haar talent, vertellend aan ʼn verhaal wat jou aan die hart gryp en diep laat nadink: Wat as dit ek was; wat sou my keuse wees?

Twee boeke later is die verhaal van Susan Nell, wat die ergste onnoembare oorgekom het in die konsentrasiekamp Winburg tydens die Anglo-Boereoorlog, miskien aan baie van ons bekend, maar hierdie toneelstuk pak dit nuut aan.

Dit is meesleurend danksy die verhoog as onmiddellike medium, die gestroopte onderbeklemtoning van die teks, ʼn aktrise wat net ʼn voorreg is om te waardeer, spelleiding en rekwisiete uit die boonste rakke, en ʼn vars beligte hoek waar ʼn bielie van ʼn morele vraagstuk die fokus is eerder as ʼn makabere daad uit die verlede.

Wat sou jy doen, word ʼn mens in hierdie vertoning afgevra, as die geleentheid tot wraak hom in jou hande inspeel, as die persoon as gevolg van wie jy alles ontbeer aan jou genade oorgelaat word, as jy self kan kies tussen wraak oor wat jou definieer, en die versorging waartoe jy uit beroepskeuse ʼn eed gesweer het?

Dit is die keuse waarvoor Susan Nell gestel word, en dit is waarom daardie aanvangswoorde wat Prinsloo so gelade uiter, so absoluut rigtend is. Is sy nog Susan Nell? Wat verteenwoordig dit om Susan Nell te wees, ten diepste, buiten die dop van die geskende liggaam?

Prinsloo se vertolking van die naamrol in hierdie eenvroustuk is ʼn móét om te sien vir enigiemand wat die teater, ons taal en spesifiek die wordingsgeskiedenis van die Afrikaner liefhet. Dit is vir vertonings soos hierdie dat die toneelgenre bestaan – ʼn meestersklas van hierdie aktrise sonder gelyke in Afrikaans.

Dit is ʼn verhaal van ontsettende wreedheid en skending, van aangrypende barmhartigheid deur figure van elders, van ontferming deur die destydse Kaapse matriarg Maria Koopmans de Wet, van Susan se deursettingsvermoë en die letsels wat haar verhoed om liefde te beantwoord, en van die moeilikste keuse tussen wraak en genade – want wat is geregtigheid teenoor die menswees van albei partye in die skadu van groot onreg?

Die verhoogkleding is bykans onmoontlik om te hoog aan te prys. Die rol en gebruik van die ragfyn tekstiel, die kiste en veral die rouheid van klip in die vertel van hierdie verhaal vir die verhoog maak ʼn mens gewoon dankbaar vir die geleentheid om hierdie produksie te beleef.

Diegene wat die verhaal ken uit byvoorbeeld Francois Smith se onlangse topverkoper-roman sal weet daar is ʼn toneel uit die konsentrasiekampgedeelte wat baie moeilik is om voor ʼn gehoor te herskep. Dit is amper te erg om in te dink, wat nog te sê te sien.

Wees verseker dat dit in hierdie produksie met soveel styl, deernis, smaak, waardigheid en onderbeklemtoning gedoen word dat die verskrikking behoue bly, maar dat jy enigiemand kan saamneem om die verhoogstuk te kyk. Kyk net mooi of sommige speelvakke nie dalk ʼn ouderdomsperk stel nie.

Onderbeklemtoning is ʼn alte skaars verskynsel in die Afrikaanse dramabedryf en hierdie produksie van Kamphoer wys waarom dit gerus meer gereeld ingespan kan word – minder is so dikwels meer, is dit nie?

As jy kan, gaan kyk asseblief Kamphoer wanneer dit op die planke is by Aardklop in Potchefstroom van 24 tot 27 September of by die Baxter in Kaapstad van 9 tot 26 Oktober.

Beter teater gaan jy nie sommer kry nie, en as jy dit misloop, is dit onontkenbaar jou verlies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

6 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

‘n Skitterende stukkie skryfwerk deur Jan-Jan Joubert. Komplimente!
As die produksie die helfte so goed soos die resensie is, gaan dit ‘n wenner wees.

Francois ·

Voor waar skittered taalgebruik in Afrikaans. Welgedaan Jan-Jan Joubert.
Dink stellig dat sommige mense dalk die betekenis van sommige woorde sal moet gaan opsoek. “Ragfyn tekstiel”, sjoe, wanneer laas het ek die woord gehoor. Rol so lekker van die tong af.

Hennie Stander ·

Kom ons gee ook erkenning aan Nico Moolman aan wie die verhaal vertel en dit in sy boek The Boer Whore weergegee het. Ek het Winburg gister besoek en dit was aangrypend om die konsentrasiekamp kerkhof te besoek, asook die grot waar Susan deur Noah en Nanki versorg is.

Nico Moolman ·

Dis nou regtig verfrissend om as skrywer van die oorspronklike verhaal vermeld te word.
Dit wys jou net. Daar is nog feite joernaliste in die bedryf.

ChrisE ·

Ek is nie ‘n ywerige boekwurm nie. Die verhaal
/gebeure in die boek het my aangegryp. Goed geskryf ook. Hie die boek tot sy ontstaan gekom het, het my ook verbaas.

Sam ·

Ek sal graag die boek bekom en lees.
Ons mag nie vergeet nie, maar moet dié onthou wat duur betaal het vir ons vryheid. Dis hartseer hoe maklik dit weer afgestaan is en wat die gevolglike uitkoms vandag is. Dan weet ons die groot ellende en verdrukking lê nog voor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.