[Resensie] Nataniël: ‘Mannequin’

Nataniël - Mannequin

Nataniël in Mannequin (Foto: Verskaf)

Dalk is dit ʼn trek van ware kunstenaarskap as ʼn kunstenaar dit kan regkry om in ʼn stampvol teater elke gehoorlid, elkeen met sy en haar eie verwagtings, interpretasies en selfs afkeure, te vermaak sodat elkeen vasgevang word, én bly, in die verhoogkuns wat voor hulle afspeel. Dit is wat Nataniël in sy jongste produksie, Mannequin, meesterlik doen.

Met sy grootgeestige kostuums, sommige byna té groot om in ʼn gewone vertrek in te pas, soos hy daarna verwys, en sy meevoerende stories wat jou wegmoffel van ʼn bestaan buite die teaterdeure, neem hy jou na ʼn magiese wêreld van drome en stories waar jy een oomblik met ʼn gewetensvraag wroeg en die volgende oomblik luidkeels en histeries lag.

Dit is veral sy vertolking van stories, in Afrikaans en Engels, en liedjies, uit sy pen sowel as sy weergawe van drie bekende liedjies, wat die teaterganger vasgenael in die stoel hou. Dit is deurgaans moeilik om jou oë selfs ʼn oomblik van die verhoog af te haal.

Mannequin vertel die storie van ʼn skrywer wat speel met die idee om ʼn boek te skryf oor die lewe van ʼn skugter kleremaker. Dit is ʼn verhaal met verskeie verrassingselemente, humor, waarheid en fantasie.

Natanië - Mannequin 3

Nataniël in Mannequin (Foto: Verskaf)

Visueel ontsluit die produksie ʼn wêreld wat bykans enige teaterganger sal betower: Die skynbaar eenvoudige verhoog, waarvan baie van die rekwisiete uit die dak laat sak word en telkens ʼn ander dimensie aan die verhoog gee, en ook die meer as tien verskillende kostuums waarin Nataniël in enkele sekondes in- en uitglip, skep die perfekte atmosfeer vir die vertellings. Die vertellings word trouens versterk en ondersteun deur rekwisiete soos ʼn enorme kombers wat feitlik die hele verhoog bedek – een wat ʼn metafoor word vir veiligheid en geborgenheid.

Hy vertel onder meer oor ʼn fiasko wat rondom ʼn troue afspeel. Die twee strooimeisies se rokke word so groot, ʼn gevolg van hulle gierigheid, dat hulle in dié rokke verdwyn. Die bruid word dan toegelaat om die lewe te leef waaroor sy gedroom het, sonder die inmenging van die strooimeisies. Weer het dié storie ʼn ander dimensie vir die gehoorlid wat dieper kyk en meer aandagtig luister.

Die kostuums is weer die skeppings van Floris Louw, Nataniël se jarelange ontwerper.

Louw het reeds in 2004 vir die Nataniël House of Music  begin ontwerp, en het al die kostuums vir produksies soos Combat, Factory, Cathedral en After Animals ontwerp. Hy het ook twee van Nataniël se boeke, Kaalkop en Kaalkop Joernaal, geïllustreer.

Dihan Slabbert, Nataniël en Nicolaas Swart (Foto: Verskaf)

Dihan Slabbert, Nataniël en Nicolaas Swart (Foto: Verskaf)

Die oorspronklike musiek, elke item uitsonderlik en spesiaal neergepen om by die oorhoofse tema te aansluit, bevredig deurgaans en bevestig Nataniël se omvang, selfs groter as voorheen.

Sy verwerkings van gewilde liedjies soos “I Want to Dance with Somebody”, “Cry to Me” en “Purple Rain”, laasgenoemde moontlik ʼn huldeblyk aan Prince, die sanger wat onlangs dood is, verskil ligjare van die oorspronklike opnames en kry ʼn Nataniël-stempel. Dit is veral Dihan Slabbert en Nicolaas Swart se stemme wat dikwels sorg vir pragtige harmonieë.

Met sy verhoogervaring – hy is volgende jaar reeds 30 jaar in die bedryf – kom ʼn mens weer onder die indruk van sy meesterskap.

Nataniël as huishoudelike naam sorg immer vir opgewondenheid in die lug, selfs voor die gordyn lig. Selfs wanneer hy vinnig, wysvinger direk na ʼn teaterganger gemik, beveel dat ʼn selfoonlig dadelik afgeskakel word, geniet die gehoor hom met uitbundigheid – hy is immers in baie oë Suid-Afrika se verhoogliefling.

Verlede jaar se After Animals-produksie is met vyf Naledi-toekennings bekroon, meer as wat enige ander kunstenaar of produksie kon regkry. Mannequin het al die elemente om ʼn sterk aanspraakmaker op talle teaterpryse te wees.

Mannequin is van 18 Augustus tot 25 September op die planke in die Theatre of Marcellus by Emperors Palace – Woensdae tot Saterdae om 20:30 en op Sondagmiddae om 15:00.

Bespreek kaartjies by Computicket of bel 011 928 1297/1213.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Marianne ·

Geluk Nataniel jy is finominaal. My ma is jou grootste fan!

Cora Simpson ·

Dit was ‘n wonderlike ervaring. Daar was humor en ook baie om na te dink. Ek se “Thank You” Nataniel

Pam ·

Ons was Woensdagaand in n stampvol teater en dit was met een woord….FANTASTIES !

CHANTELLE CONNOWAY ·

Ek het velrded Sondag die geleetnheid gehad om weer na Nataniel te gaan kyk en dit was awesome verby – al sy vertonings is van die beste ooit en ek sal dit vir enige iemand aanraai – dankie Nataniel

Lana Turner has collapsed ·

Wens ek was daar! Ek dink hy kan eksotiese skemerkelkies uit gewone ys en water maak, hoe asemrowend!

Blits ·

Nataniel se werk het ontsettende diepte. Ja dit gaan ongelukkig verlore, selfs op baie van sy ondersteuners. Dit hang maar af van jou eie diepte en intelligensie om syne werklik te kan waardeer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.