[Resensie] ‘Weerkaats’: Milan Murray pak eensaamheid en eerlikheid aan

Weerkaats (Foto: Aardklop)

Vir een mens is ʼn dag net ʼn dag, maar vir ʼn ander is dit die dag wat alles verander het, die dag wat jy vir altyd sal onthou. Party mense leef aktief deur die dae, en party kyk toe hoe ander leef. Daar is wel een gegewe, en dit is dat die tyd aanstap en dat mense ʼn lewe leef wat hulle kies, maar dus ook die lewe misloop wat hulle nie gekies het nie.

Milan Murray het haar solodebuut gemaak by vanjaar se Aardklop in die produksie Weerkaats. Murray speel die rol van Luka en dit speel af op ʼn onvoltooide brug in Kaapstad. Luka het al dikwels die brug besoek, maar nog nooit afgespring nie.

Die unieke beligting, musiek en visuele komponente is die beste aspek van die produksie. Luka teken vorms op die brug, wat bydra tot die emosie van haar karakter. Die verhoog is eenvoudig en bevat net twee kleure: wit en swart. Murray begin die stuk silwerskoon en dra ʼn swart rokkie. Sy kom voor as jonk en onskuldig.

Murray omskep haarself in verskillende karakters en die gehoor sien die lewens wat die karakters gekies het; hulle sien ook die lewens wat die karakters nie gekies het nie, en waarna hulle streef. Aan die einde van die produksie is Luka vuilgesmeer en het sy al haar gevoelens vir die gehoor uitgelê. Murray se karakter is nou baie meer kompleks.

Weerkaats is ʼn produksie vir ʼn gehoor wat daarvan hou om dieper te dink. Hoewel dit visueel stimulerend is, is die storielyn soms raaiselagtig, en elke karakter se aandeel in die storie nie duidelik nie. Luka is sentraal in die storielyn, en die ander karakters bloot bykomend. Luka se storie alleen kon moontlik ʼn soloproduksie op sy eie gewees het. Murray se vermoë om in ʼn oogwink tussen karakters te wissel, is merkwaardig.

Weerkaats wys die eensaamheid in ʼn lewe waar geheime en innerlike gedagtes verskil van die werklikheid. Dit spreek gedagtes aan waaroor mense nie met ander praat nie, omdat dit nie gepas is nie, of omdat dit nie is wat van jou verwag word nie. Dit handel uiteindelik oor die lewe wat jy kies, teenoor die lewe wat jy nie kan lewe nie, as gevolg daarvan.

Deur: Retief Scholtz

Met: Milan Murray

Regie: Philip Rademeyer

Verhoogbestuur: Lize van Rooyen

Vervaardiger: Milan Murray

Boys High: 3 Okt 09:00 | 4 Okt 16:00 | 5 Okt 13:00 | 6 Okt 13:00 | R120 | 60 min | OB | Afr

Aardklop ondersteun die Teaterbystandsfonds – die kunste en vermaaklikheidsbedryf se enigste hulpfonds. As geregistreerde niewinsgewende-organisasie (wat 18 A Belastingaftrekkingsertifikate uitreik) is die TBF  totaal afhanklik van donasies om veral hulpbehoewende bejaarde kunstenaars te onderhou. Jou donasie is die applous wat ʼn lewe kan red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.