Schalk Bezuidenhout: “komediant, akteur, lekker mens”


Schalk-Bezuidenhout-foto-FacebookSchalk-Bezuidenhout2

Schalk by die Brooklyn-teater voor ‘n vertoning. Foto: Facebook/Schalk Bezuidenhout

Nog voor ek kyk of sy bekende snor, wat hy afgeskeer het vir sy rol in kykNET se Hotel, teruggegroei het, merk ek sy spierwit T-hemp met Nataniël se “Kaalkop” voorop op. ʼn Rooi trui met ʼn katmotief is om sy middel vasgebind. Saam met hom is Erns Grundling, sy vriend en promotor van sy Afrikaanse vertonings. Hy groet beskeie, glad nie luidrugtig en astrant soos wat ʼn mens verwag nie.

ʼn Mens kan deesdae nie meer in ʼn gesprek die naam Schalk Bezuidenhout noem sonder dat mense nié weet van wie jy praat nie. Op sy Instagram-profiel beskryf hy homself as “komediant, akteur, lekker mens”. Lees jy sy biografie op sy Facebook-blad, sien jy hy het ʼn nederige begin gehad en het grootgeword in ʼn “baie Afrikaanse dorp, reg langs die lughawe in Kempton Park.”

Die begin van ʼn loopbaan

“Ja,” begin hy selfversekerd vertel. “Ek het grootgeword in Kempton Park. Ek is gebore in Pietersburg en toe trek ons. Wel my ouers, ek het nie regtig ʼn sê gehad nie. Ek kon toe omtrent net twee goed sê en dit was mamma en pappa,” sê Schalk. “Hulle het toe gevra of ek wil trek en ek het gesê ‘mamma’, wat hulle toe as ʼn ‘ja’ aanvaar het,” skerts hy.

Hy gesels al makliker. “Ek was nog altyd ʼn kultuurkind,” sê hy. As jy al een van sy vertonings bygewoon het of sy sketse op Youtube gaan soek het, sal jy weet hy het veral geskitter in sy skoolkoor. “Ek wou van kleinsaf akteur geword het. Daarna wou ek gaan drama studeer by die Universiteit van Kaapstad, maar ek het nie ingekom nie,” vertel hy.

“Ek is toe uiteindelik vir die dramakursus gekeur, maar omdat al ons klasse uit baie teorie bestaan het, was ek redelik desperaat om op ʼn manier op die verhoog te kom. Ek wou net ʼn oudisie doen vir iets,” vertel hy. “Daar was toe ʼn derdejaarstudent wat ʼn klein komedievertoning wou doen en hy het toe met ons eerstejaarsklas kom gesels en gevra of iemand belangstel om ʼn oudisie te doen. Teen daardie tyd was al die mense, wat vroeër vir die dramakursus ingekom het, besig om voor te berei vir hul vertoning van Romeo and Juliet,” vertel hy. “Ek het gesê wel, ek doen niks nie, ek sit heeldag in my kamer en kyk televisiereekse en drink Black Label,” lag hy. “Ek het toe so vyf minute se komedie geskryf en dinge het van daar af ontwikkel.”

Komedie en temas

“Ek het nooit regtig komedie oorweeg as ʼn loopbaan nie, want ek het altyd gedink ek wil eerder ʼn akteur word en mense gaan my nie ernstig opneem as ʼn akteur as ek ʼn komediant is nie,” gesels hy. “Ek besef nou dit is ʼn baie naïewe manier om daaraan te dink.”

Hy is baie koersvas wanneer jy uitvra oor die soort komedie waarna gehore kan uitsien as hulle na een van sy vertonings gaan kyk. “Ek wil dit nie regtig beperk deur te sê ek dryf die spot net met hierdie of daardie nie, want dan klink dit asof die vertoning half net oor een ding gaan, maar dit is nie net een ding nie,” sê Schalk. “Die een grap gaan dalk oor iets wat ek gedoen het en dan oor iets wat dalk gister met my gebeur het en die volgende grap is miskien oor my meisie en die volgende grap is dalk bietjie polities.”

Schalk-Bezuidenhout-Mochachos

Schalk se gesig pryk op die kitskosrestaurant, Mochachos, se advertensies. Foto: Instagram/Schalk Bezuidenhout

Ek verwys terug na sy biografie op Facebook. “In Kempton Park is die tradisionele, Afrikaanse manier van leef ʼn goeie lewe,” lees ek. “Jou ma se borsmelk sou brandewyn en Coke wees en jy sou kaalvoet skooltoe stap.” Schalk gee toe: “Afrikaans is seker maar bietjie van ʼn tema in my vertonings, veral tydens my Engelse vertonings, want ek praat oor hoe ek grootgeword het in Afrikaans en hoe ek sekere dinge ervaar as ʼn Afrikaanse mens,” vertel hy. “Maar in terme van onderwerpe is daar nie ʼn ding nie. Humor is die hooftema. Waaroor ons praat maak nie saak nie, want jy kom om te lag en jy gaan lag.”

Schalk is orals

Benewens sy sukses op die verhoog, is Schalk ʼn bekende gesig op kykNET se joernaalprogramkanaal, Via, as aanbieder van die afspraakprogram Die Kliek en Jou Nuusminuut. Sy gesig pryk selfs op die kitskosrestaurant Mochachos se advertensies én hy is te sien in die nuutste uitgawe van die modetydskrif Marie Claire.

Hy speel ook die rol van Danny in Stiaan Smith en Bennie Fourie se gewilde mokumentêre komediereeks, Hotel. Ek noem hom ʼn “it” mens, iemand wat op almal se lippe is. Hieroor lag hy. “Ek dink nie ek dink ooit aan myself as ʼn “it” mens nie. Ek was altyd baie min beskikbaar as gevolg van my baie intensiewe kursus waarvoor ek altyd in die klas moes wees. Ek kon eintlik van hierdie jaar af eers voltyds baie goed doen wat ek nie voorheen kon doen nie en natuurlik wil ek alles doen wat ek kan! Daarom lyk dit dalk asof ek oral is op een slag.”

Schalk vertel geesdriftig van sy rol as Danny. “Danny is soos my innerlike kind en hy is baie naïef,” sê hy. “Mense het my al gevra hoe speel ek so ʼn dom karakter, maar hy is glad nie dom nie,” verdedig hy sy karakter.

Schalk-Bezuidenhout-Danny-Hotel

Schalk vertolk die rol van Danny, die portier, in kykNET se komediereeks Hotel. Foto: www.kyknet.dstv.com

“Danny is grootgemaak deur sy ouma, wat nie vir hom baie van die goed van die lewe geleer het nie. Baie keer wanneer iets met hom gebeur, is dit die eerste keer wat hy dit beleef, daarom dink ek dit is lekker vir die gehoor om daardie eerstes, soos die eerste keer wat hy verlief raak of sy angs wanneer hy vir die eerste keer ʼn meisie wil soen, saam met hom te beleef. Of hy uiteindelik vir Malanie (gespeel deur Mila Guy) soen, kan ek nie nou verklap nie,” lag hy.

Oor Jou Nuusminuut op kykNET is hy ook opgewonde. “Ek en Erns skryf saam aan die inhoud. Dit is ʼn nuussatire en uiteraard is dit dus sosiale kommentaar wat ek lewer. Baie mense verkies om hul nuus deur nuussatires, soos The Daily Show te kry, want dit is ʼn ligter manier om die nuus in te neem. As iets baie ernstig is, kan ons bietjie daarmee spot en darem daaroor lag,” vertel hy.

Jou Nuusminuut is vir my ʼn lekker ding om te doen. Mense gaan maar partykeer mal en mense is kieskeurig oor wat hulle snaaks vind en wat nie. Ek het dit altyd eers problematies gevind, want ek het gevoel jy moenie skynheilig wees nie. Jy kan mos nou nie vir die een ding lag en dan nie vir ʼn ander ding nie, maar as jy daaraan dink, doen ek dit ook. Daar is sekere goed wat ek snaaks vind en sekere goed wat ek dink “ooh, te ver”. Ons moet maar braaf wees, ons kan nie trippel rondom sekere goed nie en die nuus is die nuus.”

Verwag mense altyd dat hy moet snaaks wees?

“Ja!” sê hy sonder skroom. “Jy kry mense wat dit goed hanteer en mense wat dit nie doen nie. Jy kry mense wat sê “hey, vertel ons ʼn grappie” en wat ek altyd probeer doen is sê nee, kom kyk die vertoning, want ek belowe jou dit gaan lekkerder wees. As ek nou hier staan en een van my grappe uit my vertoning probeer vertel, weet ek voor my heilige siel dit gaan platval en jy gaan daar staan en teleurgesteld ʼn lag probeer uitforseer. Party mense sê dis reg, hulle gaan die vertoning kom kyk, en ander mense hou net aan en aan. Ek het nou die dag in die Kaap gestap en iemand het op ʼn straathoek tussen ʼn klomp ander mense vir my geskree om ʼn grappie te vertel. Ek weet dan in sulke gevalle nie wat verwag mense nou regtig van my nie. Dit vat net een so ou om jou hele dag te bederf.”

Die verhoog saam met groot name

Schalk het op 23-jarige ouderdom al verhoë gedeel saam met groot name soos Trevor Noah, Barry Hilton en Casper de Vries. “Om ʼn vertoning oop te maak vir groot komediante is ʼn goeie platform vir blootstelling,” vertel hy, “en dit gee ook so bietjie geloofwaardigheid aan die komediant wat die vertoning open, want hulle sou my natuurlik nie laat open het as hulle nie gedink het ek is snaaks nie. Ek geniet dit baie om te open vir mense. Sekere komediante bereik die punt waar hulle voel hulle is nou ‘te groot’ om vir ander komediante oop te maak, maar ek dink nie ek sal ooit daai punt bereik nie.”

Casper-Schalk-Hannes-3-in-1

Casper de Vries, Schalk en Hannes Brummer tydens die 3-in-1 vertoning by die Atterbury Teater. Foto: Instagram/Casper de Vries

Schalk vertel die vertoning “3-in-1”, wat hy onlangs saam met Hannes Brummer en Casper de Vries by die Atterbury-teater gedoen het, was ʼn hoogtepunt in sy loopbaan tot dusver. “Dit was die eerste keer wat ek saam met Casper gewerk het en dit was ongelooflik, want hy is een van my groot komedie-rolmodelle. Veral as hy komedie in Afrikaans doen,” sê hy. Hy draai na sy vriend langs hom. “Erns het nou die dag gesê Casper toor met Afrikaans en dit is vir my ʼn mooi beskrywing van wat hy doen met ons taal. Ek hoop om in die toekoms meer saam met hom op te tree.”

“Ek het verlede jaar vir Schalk vir die eerste keer sien optree in Oudtshoorn en teen daardie tyd het hy nog nooit ʼn solo-Afrikaanse vertoning in Pretoria gedoen nie,” vertel Erns. “Ons het gedink dit sal ongelooflik wees as ons vir Casper kan oorreed om weer ʼn optrede te doen, want hy was toe omtrent vier jaar gelede laas op die verhoog,” sê hy.

“Ons het toe met hom kontak gemaak en hy het gehou van die idee. Hannes het toe ook aan boord gekom. Op ʼn manier verteenwoordig dit drie verskillende generasies van komediante en dit was ʼn wonderlike vertoning wat redelik vinnig uitverkoop het. Ons hoop om die vertoning weer te doen, hopelik volgende jaar by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en dan miskien ook in ander lokale in ander stede.”

Schalk-Bezuidenhout-Second-Language-plakkaat-foto

Die plakkaat vir Schalk se Engelse eenmanvertoning, Second Language. Foto: Facebook/Schalk Bezuidenhout

Schalk se Engelse eenmanvertoning, Second Language, het voorheen goed gedoen by die Baxter-teater in die Kaap en hulle het hom gevra om dit weer op die planke te bring in hul groter teater. “Dit gebeur 20, 21 en 22 Oktober en kaartjies daarvoor is by Computicket beskikbaar. Mense in Gauteng, wat graag die vertoning wil sien, kan op 3, 4 en 5 November by die Goliath Comedy Club in Melrose Arch kom kyk – kaartjies hiervoor is beskikbaar by Ticketpro.”

Waarna kan aanhangers nog uitsien? “Ons het ʼn DVD opgeneem vir my Afrikaanse vertoning, Schalk Bezuidenhout Lewendig, wat ek nou al hierdie jaar gedoen het by onder andere die KKNK, die Innibos-fees, die Atterbury- en die Brooklyn-teater. Dit sal hopelik binne die volgende paar maande op die rakke te koop wees,” vertel hy.

Toe ons totsiens sê by die deur weet ek, hierdie is beslis nie die laaste sien van Schalk Bezuidenhout nie. Inteendeel, hierdie was net die begin. As jy “Schalk” in Google se soekenjin tik, kom sy naam immers eerste op voor ʼn sekere bekende rugbyspeler sʼn. Op 23 wil dit gedoen wees. “Baai,” sê hy en draai terug na my toe, “ek gaan nou pizza eet.”

*Danny het uiteindelik vir Malanie gesoen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.