Sendeling: Maroela-joernaliste vertel

Sendeling die hoofgereg van feeste soos Aardklop

Deur Susan Lombaard

“Here, as my man se liggaamlike oorskot die strydbyl moet wees… Laat u wil geskied.”

Ons – dis nou Maroela Media se joernaliste – daag toe by “Sendelinge” op in ons Rooikappie- en Sneeuwitjie-uitrustings waarmee ons bemarking hier by die fees doen. Ontdek dat ons kaartjies in die heel voorste ry het, mooi onder die verhoogligte.

Vyf minute in die vertoning in trek ek stilletjies die rooi strik van my kop af. Rooikappie langs my hou op wikkel in haar stoel en bêre haar foon. Want die besef dat ons hier ingestap het in ‘n vertoning wat groter is as ‘n resensie, groter as woorde, het ons sleg onkant gevang.

“Sendelinge” is die storie van ‘n weduwee wie se man, ‘n oud-sendeling in die bruin gemeenskap Eben-Haezer, pas oorlede is. Al wat sy wil doen, is om haar man te begrawe en almal wat lief was vir hom, by die begrafnis te hê. Maar die wit gemeente se kerkraad weier om die mense van die bruin gemeenskap ‘n sitplekkie in die kerk te gee. En toe sy die bruin dominee vra om haar man te begrawe, weier die seergemaakte bruin gemeentelede om die wit mense in die kerk toe te laat.

Die wonder van die vertoning lê dalk in die afwesigheid van verwyte op die verhoog. Lida Botha, wat die rol van die weduwee vertolk, bring elke minuut se toneelervaring verhoog toe en oortuig as ‘n Godvresende vrou wat die wit en bruin dominees se ongemaklike situasies verstaan. Die twee dominees oortuig eweneens as twee dienaars wat versoening, liefde en vergifnis preek, maar wat nie hul hardkoppige kerkrade se harte saggepreek kry nie.

Die gemeenskapskoor van Promosa en Ikageng, wat in die skadu’s van die kerkbanke begrafnisliedere sing, ontvang na die vertoning die brose en tranerige lede van die gehoor in die voorportaal en sing nog ‘n paar liedere. Man, dan huil mens eers lekker. En druk sommer mense wat jy nie ken nie.

“Sendelinge” is die hoofgereg van ‘n fees soos Aardklop en verdien baie meer erkenning as wat dit tot dusver gekry het.

‘n Spesiale lig van die hoed vir Lida Botha wat regte trane op die verhoog huil!

“Sendelinge” is gebaseer op die boek deur Elsa Joubert en spog met Lida Botha, Zane Meas, Denise Newman, Mary Dreyer en Stian Bam op een verhoog. Dis verwerk deur Saartjie Botha. As jy ernstig is oor Afrikaanse kunste, sorg dat jy dit sien.

 

“Ons moet mekaar liefhê.”

Deur Suné van Heerden

Hoe versoen mens twee uiteenlopende kulture en gemeenskappe? Sendeling, Saartjie Botha se verwerking van Elsa Joubert se boek met Lida Botha, Zane Meas, Denise Newman, Mary Dreyer en Stian Bam in die rolverdeling, bied stof tot nadenke as antwoord op hierdie relevante vraag.

Twee skynbaar uiteenlopende gemeenskappe – die wit bodorp se mense en die bruin sendelinggemeenskap; maar daar is tog soveel wat ooreenstem. Lida Botha lewer ‘n oortuigende vertolking van ‘n weduwee se stryd om haar man te begrawe: in die wit kerk wil hulle nie die lede van die bruin gemeenskap toelaat nie en in die bruin kerk wil hulle nie die witmense toelaat wat hulle dan nie in hul eie diens wou inlaat nie.

En dan volg die hoogtepunt van die stuk wanneer die wit dominee en die bruin eerwaarde afsonderlik dieselfde boodskap aan hul gemeentes oordra: Wie is dan my naaste?

Die koor verras die gehoor na die tyd met nog 'n paar liedere.

‘n Gemeenskapskoor uit Promosa en Ikageng naby Potchefstroom verskyn saam die akteurs op die verhoog en sing Dit is wel met my siel.

Die stuk laat jou emosioneel gedreineer en geestelik vol.

Volpunte vir die regisseur en akteurs.

Sendeling wys tans by die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Annatjiesandrock ·

Uit die seer/frustrasie  van mense kan daar sekerlik goeie stories kom.   Dis net altyd vir my jammer dat die seer/frustrasie van een altyd botoon voer bo die  van ‘n ander.   Eendag anderdag sal daar ook oor die seer/frustrasie iets geskryf word wat net soveel goeie en simpatieke aandag sal kry.  

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.