Sepie-aktrise eersdaags op US Woordfees-planke te sien

Christel van den Bergh repeteer vir die toneelstuk, 'Swartskaap'. (Foto: Verskaf)

Christel van den Bergh repeteer vir die eenvroutoneelstuk, ‘Swartskaap’. (Foto: Verskaf)

Die eenvroutoneelstuk Swartskaap maak eersdaags sy debuut op die planke by die US Woordfees in Stellenbosch met die gesoute aktrise, Christel van den Bergh.

Van den Bergh kuier elke weeksaand in sitkamers landwyd as Renate in die kykNET-sepie Getroud met Rugby.

Die teaterstuk is gebaseer op die Odette Schoeman-roman met dieselfde titel, wat in 2009 op die rakke verskyn het, en die teks vir die stuk is geskryf en verwerk deur die akteur Sean van Noordwyk. Hy is bekend vir sy rol as Reitz Bekker in Getroud met Rugby. Hy behartig ook die regie van die toneelstuk.

Swartskaap speel af in die tagtigerjare en vertel die lewensverhaal van Claudie Thompson. “Haar lewe is voortdurend met uitdagings besaai en elke dag baklei sy vir ʼn beter toekoms,” verduidelik Van Noordwyk.

“Hoewel dit met tye baie swaar gaan, met ʼn pa wat tronk toe is toe sy drie jaar oud was en ʼn ma wat ly aan skisofrenie, bly sy uitstyg bo haar omstandighede. Dit was vir my belangrik om dit in die stuk oor te bring, want daar is altyd hoop en jy is die een wat in beheer is van jou lewe, ten spyte van jou omstandighede.”

Die stuk is gebaseer op die roman deur Odette Schoeman.

Die stuk is gebaseer op die roman deur Odette Schoeman.

Van Noordwyk verduidelik hy het van die roman te hore gekom tydens die Nasionale Toneelspelkompetisie vir hoërskoolleerders, waaraan hy destyds self as hoërskoolleerling deelgeneem en later as beoordelaar opgetree het, en waartydens meisies gereeld prosa-uittreksels uit Swartskaap uitgevoer het.

“Dit het my nuuskierig oor die boek gemaak, want ek het elke keer ʼn ander stukkie prosa uit die boek gehoor. Ek het die boek in die hande gekry, want ek wou graag weet hoe die verskillende gedeeltes die storie saamvorm. Ek het die boek, wat uit meer as 300 bladsye bestaan, in een dag klaar gelees. Dit vloei so goed in mekaar en sodra die een hoofstuk eindig, wil jy dadelik weet wat in die volgende een gaan gebeur.”

Hoewel die toneelstuk ʼn ouderdomsbeperking van 16 het as gevolg van swaar tonele wat ontstellend kan wees, glo Van Noordwyk dat die gehoor ook die geleentheid sal kry om vir hulself en hul eie foute te lag.

“Al speel dit in die tagtigs af, is die storie steeds relevant. Gehore en televisiekykers ken vir Christel as aktrise in sekere genres en sy speel gereeld dominerende rolle, so dié stuk gaan haar ook in ʼn ander lig stel en gehore gaan ʼn kant van haar sien wat hulle nog nooit vantevore gesien het nie.”

Hy verduidelik dat hulle die repetisies vir Swartskaap om hul Getroud met Rugby-skedules moet beplan en sê dat hulle die dae wat hulle nie aan dié gewilde sepie werk nie, gebruik om die toneelstuk te skaaf.

Sean van Noordwyk tydens verlede jaar se Fiësta-toekennings. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Sean van Noordwyk tydens verlede jaar se Fiësta-toekennings. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

“Ons skiet slegs aan Getroud met Rugby wanneer ons geroep word vir sekere tonele. Ons ontvang elke twee weke ons skedules en dan beplan ons wanneer ons gaan repeteer.”

Van den Bergh is ook die vervaardiger van die stuk. “Sy moet nou al die woorde onder die knie kry, sodat sy tydens repetisies haar hele liggaam kan gebruik, want op die oomblik hou die teks in haar hande haar nog terug,” verduidelik Van Noordwyk.

“Voordat ek op die stel van Getroud met Rugby saam met haar begin werk het, was ek ʼn groot aanhanger van haar werk as aktrise. Ek het haar een jaar op die Silwerskermfees in Kampsbaai vir die eerste keer ontmoet en daardie jaar het ek vir haar gesê ek het die fliek Hoofmeisie se DVD gekoop net omdat sy daarin speel,” lag hy.

“Toe die idee van Swartskaap as toneelstuk ʼn moontlikheid word, het sy vir my gesê ek moet dit verwerk en dan probeer ons dit, want ons het niks om te verloor nie.”

Die stuk is op 2, 3 en 4 Maart te sien by die Drostdy-teater in Stellenbosch tydens die US Woordfees. David Louw behartig die beligtingsontwerp en verhoogbestuur terwyl Lise Chris Marais verantwoordelik is vir die musikale regie.

Kaartjies kos R130 en is beskikbaar by Computicket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.