Skreeusnaakse minifees in Kunstekaap

Daa' gaat die bruid! (Foto: Verskaf)

Daa’ gaat die bruid! (Foto: Verskaf)

’n Minifees van drie topproduksies, onder meer Daa’ gaat die bruid!, As drome vlerke kry en Die stripshow, word in die Kunstekaapteater van 29 Junie tot 10 Julie aangebied.

Die gesoute akteurs Hennie Smit en Arina de Witt se produksie As drome vlerke kry is te sien op 29 Junie en 1 Julie. Die Bybel- en seksualiteitskenner Timothy Kieswetter doen weg met seksuele taboes in Die stripshow op 30 Junie en 2 Julie. Teatergangers gaan ook kans kry om te skaterlag met die skreeusnaakse klug Daa’ gaat die bruid! van 10 tot 15 Julie.

Meer oor die produksies:

Daa’ gaat die bruid! (5 tot 10 Julie)
Vanjaar is die klugkoning Frans Swart se Afrikaanse vertaling van Ray Cooney en John Chapman se weghol-treffer, Daa’ gaat die bruid! ʼn voorloper in teaterproduksies. Die produksie was ook die topverkoper by vanjaar se KKNK op Oudtshoorn. Die oorspronklike There Goes The Bride is een van Cooney en Chapman se suksesvolste Westend-klugte tot op hede.

Ouma (Marga van Rooy), Judy die Bruid (Debre Rossouw) en Ursula (Edrien Erasmus). Foto: Verskaf

Ouma (Marga van Rooy), Judy die Bruid (Debre Rossouw) en Ursula (Edrien Erasmus). Foto: Verskaf

In Daa’ gaat die bruid! is dit die oggend van Judy (Debrè Rossouw) se troue. Almal is in rep en roer om alles in gereedheid te bring vir die troue later die dag. Terwyl Judy en haar ma, Ursula (Edrien Erasmus), gereed is om kerk toe te gaan, kry haar pa, Malan (Cobus Venter), die uitvoerende hoof van ʼn advertensiemaatskappy, ʼn hou oor die kop wat die poppe laat begin dans.

Voeg daarby ʼn kwaai ouma (Marga van Rooy), ʼn moeilike oupa (Lieb Bester), ʼn verdwaalde skoonpa (Gert van Tonder), ʼn flambojante assistent (Phillru van Achterbergh) en jy beskik oor al die regte elemente om jou te laat skater.

Daa’ gaat die bruid! spog met akteurs soos Ana van Achterbergh, Cobus Venter, Debrè Rossouw, Edrien Erasmus, Gert van Tonder, Lieb Bester, Marga van Rooy en Phillru van Achterbergh. Frans Swart hanteer weer die regie.

As drome vlerke kry ( 29 Junie en 1 Julie)

As drome vlerke kry (Foto: Verskaf)

As drome vlerke kry (Foto: Verskaf)

In ʼn aftreeoord beleef twee wêreldbekende vermaaklikheidskunstenaars die mooi van vervloë dae. Dis konserttyd by Huis Silwerjare en almal is in rep en roer om alles reg te kry vir die verhoog.

Aria von Waltzleben, oftewel Fanny Galore (Arina de Witt), is ʼn boorling van Ariamsvlei, ʼn ster van die sestigerjare in Las Vegas en ’n geesgenoot van Maria Callas en Edith Piaf. Egbertus Wolmarans (Hennie Smit) is ʼn boorling van die Swartland, onderwyser van Ariamsvlei, beroemde vermaaklikheidster en akteur wie se hartsnare nog al die jare roer vir Aria.

Die stripshow (30 Junie en 2 Julie)

Die Stripshow (Foto: Verskaf)

Die Stripshow (Foto: Verskaf)

Timothy Kieswetter ʼn bekende teoloog, Bybel- en seksualiteitskenner, is te sien in die eenmanproduksie, Die stripshow. Konsertgangers hoef nie bekommerd (of opgewonde) te wees nie – in hierdie stripshow word daar met woorde gestrip, en nié met klere nie.

Dit is ʼn ontbloting van die volstruismentaliteit van ons hedendaagse gemeenskap waarin ons lewe. Die gehoor sal ʼn ontmaskering en ontnugtering van seksuele taboes beleef soos nog nooit tevore nie.

Bespreek jou kaartjie vir Lefra Produksies se minifees op Computicket se webwerf, of deur 086 1915 8000 te skakel. As jy vir al drie produksies bespreek, kry jy 35% afslag op alle kaartjies. Stuur ʼn e-pos na [email protected] of skakel 011 340 8475/8128 vir meer inligting.

Besoek Lefra-produksies se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elsje ·

Dit is die beste vertonings wat ek in ‘n baie lang tyd gekyk het. Da Gaat die Bruid laat jou lag dat die trane loop. As drome vlerke kry is ‘n lag met ‘n traan. Wonderlike Afrikaanse tonele. Dankie Frans en Lefra.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.