Skrywer en regisseur Christo Davids vertel oor ‘Harry en Jackie’

Christel van den Bergh en Markus Haywood het verlede jaar tydens die Aardklop Nasionale Kunstefees met Maroela Media gesels. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Christel van den Bergh en Markus Haywood het verlede jaar tydens die Aardklop Nasionale Kunstefees met Maroela Media gesels. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Christo Davids hou gereeld sy lyf skrywer en een van sy teaterstukke is eersdaags by die US Woordfees te sien.

Die teaterstuk, Harry en Jackie: Tussen die bokse, is ook uit dié bekende akteur, wat die rol van Errol Pieterse in die SABC2-sepie 7de Laan vertolk, se pen.

Die verhaal van Harry en Jackie Carstens, ʼn getroude paartjie en ouers van ʼn dogtertjie, speel af terwyl hul besig is om bokse te pak om te verhuis. Harry laat ʼn boks met ou foto’s omval, en soos hulle die foto’s bekyk en terugpak, duik ou herinneringe weer op, wat diep gesprekke tussen die paartjie ontketen.

Davids, wat ook die regie van die stuk behartig, vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media die idee vir die toneelstuk het by hom posgevat toe hy en sy vrou, Cindy, vier jaar gelede verhuis het na die huis waar hulle tans woon. “Om te trek is baie stresvol en Cindy se reaksie op sekere situasies het my aangegryp,” vertel hy.

Hy vertel hy sou dié trek nie op sy eie kon reg kry nie. “En dit het my laat wonder, wat sou gebeur as een van ons sou wegval? Wat sou daarna gebeur?”

Markus en Christel in 'Harry en Jackie: Tussen die bokse'. (Foto: Artscape Theatre Centre)

Markus en Christel in ‘Harry en Jackie: Tussen die bokse’. (Foto: Artscape Theatre Centre)

Harry en Jackie: Tussen die bokse het verlede jaar op die Vrystaat Kunstefees gedebuteer en is benoem as beste produksie en is ook daarna op die planke by die Aardklop Nasionale Kunstefees uitgevoer.

“Die terugvoer was baie goed,” sê Davids oor dié stuk wat in Maart by die US Woordfees te sien is en later ook Suidoosterfees toe gaan.

Christel van den Bergh, bekend vir haar rol as Renate in die kykNET-sepie Getroud met Rugby, en Markus Haywood, wat die rol van Willem in 7de Laan vertolk het, speel die titelrolle in die stuk. Van den Bergh word ook op die US Woordfees gesien in die solostuk Swartskaap, ʼn verwerking van die gelyknamige Odette Schoeman-roman.

“Ek wou nog altyd iets saam met Christel aanpak vir die teater en gesels ook al lank met Markus daaroor om iets saam aan te pak,” vertel Davids.

“Toe die geleentheid voorkom om Harry en Jackie: Tussen die bokse te doen, het ek twee mense bymekaar gesit wat mekaar glad nie geken het nie. Vandag is hulle beste vriende en dit maak beslis die proses makliker om ʼn getroude paartjie te speel.”

Davids voeg by dat hy nie veel aan die teks verander het sedert die Aardklop Nasionale Kunstefees nie. “ʼn Man kan net soveel keer aan ʼn teks karring, dan moet jy vertrou dat dit wat jy daar het, die regte ding is.”

Christo Davids met een van sy Aardklop-toekennings (Foto: Verskaf)

Hoewel hy baie besig is op die stel van 7de Laan, maak hy tyd om agter sy rekenaar in te skuif om te skryf. Davids is op verlede jaar se Aardklop Nasionale Kunstefees met die Aardklop-toekenning vir grensverskuiwende werk vereer vir sy toneelstuk, My seuns.

Hy het ook die beeldjie vir beste nuutgeskrewe Afrikaanse teks en beste regisseur ontvang. Die stuk is ook gekies as beste algehele aanbieding en het ook die Hartsvriende-prys vir beste produksie ontvang. Donovan Pietersen is ook aangewys as beste manlike byspeler vir sy rol in die stuk.

“Die oomblik as jy sê jy het nie tyd nie, is wanneer jy tyd mors. Ek werk voltyds aan 7de Laan vir een week in ʼn maand en die res van die tyd fokus ek op ander skryfwerk en projekte.”

Harry en Jackie: Tussen die bokse is op 1, 2 en 3 Maart tydens die US Woordfees te sien by die Hoërskool Luckoff in Stellenbosch. Kaartjies kos R120 of R135 en is beskikbaar by Computicket. Kaartjies is ook by die deur te koop teen R155.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.