Só ‘rol’ Jack Parow in jongste album

Jack Parow en Hugo van Deventer (Foto: Verskaf)

Jack Parow en Hugo van Deventer (Foto: Verskaf)

Die Afrikaanse kletsrymer Jack Parow het pas sy jongste album, ʼn versamelalbum wat saamgestel is uit liedjies van sy kykNET-program, Dis hoe ons rol, vrygestel.

Parow en sy avontuurlustige pel Hardus van Deventer is vanaf 1 Julie as aanbieders te sien in dié nuwe reisprogram.

Parow, wie se regte naam Zander Tyler is, sê dié idee het by hom opgekom toe die twee makkers oor ʼn bier in Kaapstad gekuier het.

“Ek en Hardus het bier gaan drink in Claremont, iewers by die een of ander Engelse bar, en toe begin praat oor die idee om dalk ’n program aanmekaar te sit,” verduidelik hy. “Nadat ons ’n paar idees rondgegooi het, het ons besluit om in die middel te ontmoet en al die idees saam te gooi in een program.”

ʼn Musiekvideo van die enkelsnit, “Dis hoe ons rol”, is ook onlangs vrygestel. “Kykers word in dié musiekvideo saam met Parow en Hardus op ʼn aksiebelaaide avontuur geneem,” het Louise Crouse, Parow se mediabestuurder, gesê.

Aanhangers kan uitsien na ʼn verskeidenheid liedjies op die album. “Die album bied al Jack Parow se lekkerste treffers op een plek. Die snitlys is saamgestel uit ʼn mengsel van Parow se gewildste liedjies en liedjies wat in die TV-reeks te hoor is.”

Parow sê dié reeks was ’n avontuur soos min. Kykers kan uitsien na minstens nog ses episodes.  “Om Suid-Afrika en sy mense te ervaar op die agterkant van ʼn bike is onbeskryflik.”

Die album word ook in ʼn vloekvrye weergawe vrygestel. “Party mense hou van ʼn stywe dop en ander verkies hul dop flou,” het die sanger geskerts.

Die album of die enkelsnit kan op iTunes gekoop word.

Dis hoe ons rol wys Vrydae om 21:00 op kykNET, DStv kanaal 144, en Maandae om 20:00 op kykNET Nou!, kanaal 146.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Klaas ·

Dis hoe ons rol is ‘n onsinnige program met ‘n onbeholpe aanbieder. Net een keer halfpad gekyk. Nou geniet ons goeie radio-musiek op ‘n Vrydagaand

Reinhardt ·

Kommin? Hoe so? Omdat hy vloek? Lees bietjie die lirieke van sekere liedjies, dis aansienlik dieper as die “baby tjoklits” brigade.

Reinhardt ·

Die mense wat sê sy musiek is kommin is waarskynlik dieselfde mense wat ook gedink het FPK is sataniste en die voëlvry beweging se ouens is verraaiers. Doen julself ‘n guns en gaan lees van die lirieke. Natuurlik is van die songs gemaak vir kuier, maar meeste praat erg oor die politieke klimaat van ons land en hoe dinge verander het na apartheid.

TM ·

Moet seker nogal ongemaklik wees om op die agterkant van ‘n bike te ry in plaas van op die bike :-) (sien vierde laaste paragraaf)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.