Storiefees vir kriewelkouse dié vakansie

Een van die poppekarakters in ‘Pietersielie en Roosmaryn vertel stories!’ wat deur Koos Marais geskep is. (Foto: Verskaf)

Die belangrikheid van stories, veral vir kinders, kan nooit genoeg beklemtoon word nie. Daarom het die Suidoosterfees, die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) en die KKNK saamgespan en ’n opwindende kinderteaterproduksie ontwikkel.

Pietersielie en Roosmaryn vertel stories! het uit twee kinderboeke ontwikkel: Prinses Pampoempit deur Bianca Flanders en Faizel en die sterre deur Rafiek Mammon.

Dit vertel die verhaal van twee karakters wat die wêreld vol reis met hul towerkaravaantjie, op soek na vriende, boeke en kinders om stories mee te deel. Die boodskap aan jong teatergangers is opvoedkundig en fokus op die belangrikheid van verdraagsaamheid, die waardering van mense se uniekheid, om jouself te wees, en natuurlik, die waarde van lees.

Die akteurs Dean Balie en Bianca Flanders is in die produksie te sien saam met poppekarakters wat deur Koos Marais geskep is. Balie het onlangs met ’n handvol Fiëstas weggestap vir sy verhoogstukstuk Die Poet, wie’s hy? Hy het ook ’n kykNET Sinjatuurprys as belowende nuweling ontvang. Flanders, ʼn skrywer en aktrise, het gehelp om die produksie van ’n kleurryke teks en vrolike liedjies te voorsien.

Pietersielie en Roosmaryn bied aan ouers ’n uitstekende geleentheid om hul kroos tydens die skoolvakansie besig te hou. Die produksie is van 26 tot 28 April om 10:30 en 13:30 by die Kunstekaap-teater in Kaapstad tydens vanjaar se Suidoosterfees te sien. Streng Covid-19-protokolle is in plek en kaartjies is by Computicket beskikbaar. Daar is ook groepspakkette teen ’n afslagprys en belangstellendes kan vir Francois Abrahams ʼn e-pos stuur by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.