Suidoosterfees: Bientang, ʼn hartsverhaal

Jolyn Phillips en Frazer Barry (Foto: Maroela Media)

Bientang: bloedspoor/!nau is ʼn verwerking van die bekroonde digter Jolyn Phillips se digbundel, Bientang. Phillips gee gestalte aan geskiedenis wat nie skriftelik verewig is nie. Dit is ’n epiese gedig waarin die raaisel van Bientang, ’n Khoi Strandloper wat in die vroeë 1900’s in ’n grot in Hermanus gewoon het, ondersoek word.

Haar geskrewe geskiedenis word op die agterkant van ’n plaaslike restaurant-spyskaart saamgevat as “Die laaste strandloper”. Die Strandlopers stam af van die Khoi en was jagterversamelaars aan die kus van suid-westelike Afrika.

Bientang het met die draai van die 19de eeu raaiselagtig verdwyn, en niemand weet wat van haar geword het nie. Die grot was ʼn geskikte tuiste, omdat sy selfstandig kon woon. Sy het geleef van die ryk seelewe wat meters van haar huis af beskikbaar was. Lopende water was beskikbaar danksy die stroom wat vandag nog steeds onder die ingang van die rots spoel. Vrugte en groente is in haar tuin gekweek.

Sy is beskou as ʼn geestelike wese met bonatuurlike magte en die vermoë om met diere (en die see) te kon kommunikeer. Inwoners van Hermanus glo walvisse keer vandag nog weens Bientang terug na dié deel van die see en maak dit maande lank hul tuiste.

Phillips neem mens op ʼn reis van Afrikaans, musiek en klank en voer jou mee in historiese en kontemporêre inheemswees: Hoe word ’n mens ’n laaste?

Bientang se kennismaking met Klaas en lord Montagu is ’n keerpunt wat meer oor Bientang ontbloot deur dié karakters se vertellings van haar. Lord Montagu, ’n reisiger wat die natuur ken en dokumenteer, probeer Bientang soos die plante en diere opskryf [“die plante en diere het hy afgeskryf / maar vir Bientang kan hy nie uitgeskryf kry nie”]. Klaas is lord Montagu se gids. Hy neem die posisie van ’n eerstepersoonverteller in en vertel hoe hy en die lord Bientang ontmoet het as jong vrou met hoë wangbene en verleidende heupe. Klaas raak nie jaloers as lord Montagu praat oor “die vrou wat so koninklik in sy oë kyk” nie, maar wel “as sy so terug in die lord se oë in soek”.

Vir dié produksie moet jy jou hart oopmaak, want dit gaan jou emosioneel tref in ʼn land waar nie almal se geskiedenis opgeteken staan nie.

Carlo Daniels, akteur en teatermaker, sê dit is die verskeidenheid in die stuk wat hom aangeraak het. “Die digkuns is ongelooflik, die musiek, die kultuur en tekstuur … Ek het dit baie geniet saam met die beelde van die see wat na mens gebring word. Dit is lekker om die karakter van Bientang te leer ken, ek het nou ʼn mooi prent van wie sy was; ek het nie vantevore van haar geweet nie.”

Daniels sê hy het die tipe klank en tekstuur verwag weens die span wat by dié produksie betrokke is.

Prof. Sylvia Vollenhoven van die Universiteit van Johannesburg sê die stuk is vir haar verfrissend. “Dit is wonderlik wat [Phillips] doen met poësie, musiek, drama, alles bymekaar. Om ʼn storie te vertel, maar ook om haar eie storie te vertel en hier en daar net die geskiedenis reg te sit.”

Sy loof Phillips vir haar skryfwerk en akademiese werk en sê sy het iets wonderlik verwag, en was beslis nie teleurgesteld nie.

Euodia Samson, ʼn inwoner in die suidelike voorstede, sê die stuk was absoluut fantasties. “Die manier hoe [Phillips] dit wat in haar gedagtes is verwoord en oorbring na die gehoor is ongelooflik. Die storie van Bientang, wat letterlik net ʼn naam op ʼn spyskaart is, en nou kon ek ervaar hoe dit ingeweef word met identiteit. Dit is nie net ʼn Khoi-storie nie, dit is wie ons is as Suid-Afrikaners en hoe ons gekom het.”

Samson het verstom gestaan oor die musiek en die gebruik van ongewone materiaal soos klippe vir klank.

“Die woorde en woordespel was absoluut wonderlik. En ons wat nog sukkel ná 28 jaar – ons moet bymekaar uitkom, ons moet ons stories vertel; nie uit ʼn verbitterdheid nie, maar omdat ons eintlik net halfbroers en halfsusters is, ons is bloed. Dis wat ek altyd waardeer, ons het ʼn reg om ons storie te vertel en ons moet toegelaat word om ons storie te vertel sodat ons bymekaar kan kom en kan verstaan. Dít is wat ek gekry het van hierdie storie.”

Bientang: bloedspoor/!nau is Sondag nog te sien by die Suidoosterfees in Kaapstad.
Met Charlton George, Deniel Barry, Frazer Barry en Jolyn Phillips
Teks: Jolyn Phillips
Regie: Amelda Brand
Musiekregisseur: Frazer Barry
Musiek: Frazer Barry en Jolyn Phillips
Venue: Zip Zap Dome
Datum en tyd: 1 Mei 13:00
Tydsduur: 70 min
Prys: R125

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.