Suidoosterfees: Die soeke na die aard van geweld en liefde

Cintaine Schutte (Foto: Suidoosterfees)

“Het hulle verlede hulle van menslikheid ontneem?”

Dit is die vraag wat die hoofkarakter in die verhoogstuk Onder ʼn bloedrooi hemel haarself afvra oor die aanvallers ná vriende van haar in ʼn plaasmoord oorlede is.

Die stuk is gebaseer op Annemarié van Niekerk se aangrypende memoir oor liefde en geweld in Suid-Afrika en is ook die Suidoosterfees se vlagskipdrama.

Cintaine Schutte, Daniel Mpilo Richards en Deon Lotz speel in dié produksie wat deur die Hertzogprys-wenner Nicola Hanekom vir die verhoog verwerk is.

Van Niekerk se memoir, Onder ʼn bloedrooi hemel: Liefde en geweld in Suid-Afrika, het in 2021 in Nederland verskyn onder die titel Om het hart terug te brengen. Met die Nederlandse weergawe van dié boek het Van Niekerk in 2023 die Henriette Roland Holst-prys verower, ʼn Nederlandse prys wat skryfwerk bekroon wat getuig van sosiale betrokkenheid en literêre kwaliteit.

Hoewel Van Niekerk die afgelope 20 jaar of wat in Den Haag, Nederland, woon, het sy steeds ʼn sterk verbintenis met haar vaderland. Sy het in dié tyd etlike kere teruggekeer na Suid-Afrika – onder meer vir die begrafnis van haar vriend Ruben Gouws, ʼn man wat sy ontmoet het toe sy in die 1980’s klasgegee het aan die Universiteit van Transkei in Mthatha. Ruben en sy ma is in 2015 op hul plaas naby Elliot in die Oos-Kaap vermoor.

Die verhoogstuk is nie ʼn ligte vermaakstuk nie: staal jou vir ʼn emosionele rit van die grootword in die apartheidsjare in Suid-Afrika, ʼn verhouding oor die kleurgrense heen wat destyds onwettig was, huishoudelike geweld en die besonderhede van ʼn plaasmoord.

Oor die boek het Johan Myburg in sy resensie geskryf: “[Dit] is geen maklike boek om te lees nie. Soos wat dit nie ʼn maklike taak moes gewees het om dit te skryf nie. Maar, om (hier) te leef is ook geen maklike uitdaging nie. Van Niekerk se memoir noop ʼn mens om jou te weerhou van maklike antwoorde.”

Dit is ook belangrik om in gedagte te hou dat die boodskap en vertelling Van Niekerk se eie herinneringe is – dit is haar manier om sin te maak van die liefde en geweld wat sy self beleef het, maar ook dit wat in die land gebeur het.

  • Onder ʼn bloedrooi hemel is ’n Suidoosterfees-produksie, moontlik gemaak deur NATi en Het Jan Marais Nationale Fonds. Marí Borstlap het die regie behartig.
  • Die boek, Onder ʼn bloedrooi hemel: Liefde en geweld in Suid-Afrika, is by Graffiti Boeke te koop.

ONDER ’N BLOEDROOI HEMEL, die 21ste #Suidoosterfees se vlagskipdrama met Cintaine Schutte, Deon Lotz en Daniel Mpilo May…

Posted by Suidoosterfees on Tuesday, April 30, 2024

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.