Teatermakers, dansers neem STANDpunt in

Foto ter illustrasie. (Foto: Mohamed Hassan/Pixabay)

Professionele teatermakers en dansers is deel van die kunstenaarsgemeenskap wat swaar deur die Covid-19-pandemie getref is. Die pandemie het nie net ’n dramatiese verlies aan inkomste tot gevolg nie, maar ontneem ook kunstenaars van ’n gevoel van gemeenskap.

“Die US Woordfees sien uit om bedryfsleiers in Stellenbosch te verwelkom om saam te dink en praat oor ons bedryf in ʼn mid-Covid- en post-Covid-wêreld,” het Saartjie Botha, direkteur van die fees, in ʼn verklaring gesê.

Die Take-a-STAND-gesprekreeks is gegrond op die model van skrywersfeeste en wil met ’n samekoms die kunsgemeenskap versterk en nuwe lewe daarin blaas. Dit bied dus ’n platform aan diverse stemme uit die dans- en teatersektor om verskeie uitdagings en sosiale kwessies in die uitvoerende kunste te bespreek.

“Nou meer as ooit te vore moet kunstebesture, teaters, feeste, geselskappe en vryskutkunstenaars saamwerk om ons bedryf te konsolideer en te beplan vir die uitdagende tye wat voorlê,” meen Botha.

Dié geleentheid word van 19 tot 21 Februarie in Stellenbosch deur die US Woordfees en STAND (Sustaining Theatre and Dance)-stigting aangebied. Dit word moontlik gemaak deur die finansiële ondersteuning van die Nederlandse Ambassade en die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi).

Paneelgesprekke duur sowat 60 minute lank met vier deelnemers en dit word op informele wyse deur fasiliteerders gelei.

Ismail Mahomed, direkteur van die Sentrum vir Kreatiewe Kunste (Universiteit van KwaZulu-Natal); Gregory Maqoma, danser-choreograaf; Lara Foot, uitvoerende hoof van die Baxter-teater; Mark Heywood, redakteur van die Daily Maverick Citizen en uitvoerende direkteur van Section27; sowel as Cornelia Faasen, NATi se uitvoerende hoof, is reeds as paneellede bevestig.

Die boekbekendstelling van Decolonisation as Democratisation: Global Insights into the South African Experience is deel van op die program en Siseko H Kumalo, redakteur van dié internasionale publikasie, sal ook daar wees om oor die projek te gesels.

Die Take-a-STAND-gesprekreeks sal aanlyn beskikbaar wees en is toeganklik vir lede van die publiek. Klik hier om meer te wete te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Andrew

Daar was die stuk die ander dag oor BA studeer en almal wat reg het om te doen wat hul wil vir n lewe. Dit is goed so maar, daar moet ook onthou word dat sekere beroepe oor die tyd maar tot nuut gegaan het en nog tot nuut sal gaan. Die probleem met n samelewing wat nie die europese kultuur koester nie, is dat hy ook nie sy kunste koester nie. Na mate mense wat europese kunste volg minder en armer word, gaan sy kunste oor minder word. Afrika loop nie juis oor van dans en teater nie. Ongelukkig… Lees meer »