The Guards, ʼn oorvertelling van die oorspronklike 1971-verhoogproduksie met dieselfde naam, lig die gehoor in oor die sinneloosheid, ammunisie en ander elemente van die sogenaamde Derde Wêreldoorlog.
The Guards vertel die storie van Petrus (Kaz McFadden) en Dougie (Francois Viljoen), twee bewaarders, wat die omheining van ʼn kamp in die Derde Wêreldoorlog moet patrolleer.
Die twee onervare bewaarders se roekelose optrede laat hulle een aand in die moeilikheid beland en veroorsaak dat die twee ʼn donker geheim moet hou. Hulle word egter op ʼn dag weer herinner aan die geheim toe iemand uit die bloute opdaag en al die geraamtes uit die kas val.
The Guards is gegrond op die verhoogstuk met dieselfde titel wat Ian Roberts in 1971 geskryf het. Dié stuk het afgespeel tydens die Grensoorlog.
Die herlewing van die verhoogstuk is geïnspireer deur aktuele sake, maar is herskryf om af te speel tydens die Derde Wêreldoorlog.
Lara Lourens, regisseur, sê sy wou met die oorvertelling van The Guards die sinneloosheid van die oorlog uitbeeld en mense herinner aan Roberts se oorspronklike boodskap dat die werklike vrees in elke mens self is.
Kaz McFadden het voorheen gespeel in produksies soos ʼn Paw paw vir my darling, Strikdas en Knysna.
Die verhoogproduksie maak sy buiging by die PALI-kleinteater in Lynnwoodrif, Pretoria. Die teater is op die terrein van Hoërskool Die Wilgers. Kaartjies kos R80 per persoon.
Tye
8 April – 19:00
9 April – 19:00
10 April – 15:00
Vir besprekings, kontak Carla by 082 318 7905 of stuur ʼn e-pos aan [email protected].