Tobie Cronjé-produksie op KKNK gekanselleer

Tobie V

Die toneelstuk Die stoele met die bekende Afrikaanse akteur Tobie Cronjé in die een hoofrol, sal nie meer op vanjaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op die planke wees nie.

Kunste Onbeperk, aanbieder van die jaarlikse KKNK, het in ʼn verklaring gesê hy het ná sorgvuldige oorweging besluit om die speelvak van Die stoele op vanjaar se fees te kanselleer.

Dié stuk, met Cronjé en Antoinette Kellermann in die hoofrolle, is vervaardig in opdrag van Kunste Onbeperk om Cronjé vir sy lewensbydrae tot teater te vereer.

“Ek is natuurlik teleurgesteld dat ons die speelvak moet kanselleer,” het Cronjé, wat vanjaar 70 jaar oud word, in ’n verklaring gesê. “Dit was nog net nie reg nie. Die stoele is dié moeilikste stuk werk wat ek nog aangepak het. En ’n mens wil dit graag goed doen.”

Cronjé vertolk die rol van Ou Man in dié absurde tragiese klug van Eugène Ionesco, onder spelleiding van Marthinus Basson. Kellermann vertolk die rol van Ou Vrou.

Dit is die eerste keer dat Cronjé saam met Basson en Kellermann werk. “Dit is ’n ongelooflike ervaring en ek put soveel genot daaruit,” het hy gesê.

Volgens Hugo Theart, waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, begryp die fees en die direksie die situasie, en is almal dit eens dat die kansellasie die regte besluit is. Die stoele sal nou later debuteer en besonderhede sal bekend gemaak word sodra finale reëlings getref is.

Die tydgleuwe in die SANW-ouditorium waar Die stoele sou speel, word gevul deur ekstra vertonings van ander gewilde produksies soos Melk & vleis op Saterdag 31 Maart om 14:30 en My vrou se man se mannetjie op 1 April om 09:30

Die reuk van appels, die trefferproduksie wat verlede jaar op die KKNK gedebuteer het en wat reeds talle pryse ingeoes het, sal vir twee vertonings terugkeer na die fees. Die reuk van appels sal op 2 en 3 April om 10:00 te sien wees.

Kaartjies vir dié ekstra vertonings kan by Computicket of by die deur gekoop word.

Volgens Kunste Onbeperk kan teatergangers wat reeds kaartjies vir Die stoele gekoop het, hul geld by enige Computicket-tak terugeis. Kaartjies vir Die stoele kan nié gebruik kan word vir toegang tot die nuwe vertonings wat in die plek daarvan geskeduleer is nie.

Die KKNK vind plaas van 29 Maart tot 4 April in Oudtshoorn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dorothea ·

Tobie, reik asseblief ‘n DVD uit oor al jou Strek oefeninge. Ek wil vreeslik graag saam met jou oefen. Jy is so fiks.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.