Toer plaas Piet Byleveld onder die vergrootglas

Piet Byleveld

Piet Byleveld. Foto: Argief

ʼn Vraag-en-antwoordtoer, Piet Byleveld onder jou vergrootglas, met die bekende baasspeurder Piet Byleveld word op 5 Maart in die Atterbury Teater in Pretoria aangebied.

Jacques Botes deel die verhoog met Piet as aanbieder en onderhoudvoerder, maar die vertoning bied ook die geleentheid aan die gehoor om vrae te stel.

Byleveld en Botes gaan ou bekende sake weer besoek en die vrae stel wat nog nie beantwoord is nie. Onlangse sake wat tans prominent in die nuus is, word ook onder die vergrootglas geplaas. Die span gaan ook die psige en brein van ʼn misdadiger besoek en probeer ontleed. Piet gaan ook raad gee oor kwellende vrae wat die gehoor mag hê in verband met gewetenlose misdadigers se werkswyse.

“Ek dink baie mense het tonne vrae wat hulle self vir baasspeurder Piet Byleveld wil vra,” het Marnus Bisschoff, vervaardiger, gesê.

Byleveld gaan reguit praat, op die man af, en nie huiwer om enige vrae te beantwoord nie.

Byleveld het in 2010, na ʼn loopbaan van bykans 40 jaar diens aan die gemeenskappe van Suid-Afrika, afgetree. Sy loopbaan spog met ʼn 99% sukseskoers waarvan die land se wreedste misdadigers suksesvol geïndividualiseer, opgespoor, vervolg en gevonnis is.

“Ek bly by die basiese misdaadondersoekbeginsels, ek gaan daar waar ek nodig is, maak nie saak waar nie… Ek delegeer en gee nie opdragte vanuit my kantoor nie,” is Byleveld se verduideliking oor sy sukseskoers tydens sy polisieloopbaan.

Die eerste vertoning vind op 5 Maart om 20:00 by die Atterbury Teater in Pretoria plaas en die tweede een op 6 Maart in Bloemfontein. Daarna sal dit oral in Suid-Afrika en internasionaal aangebied word. Die vertoning is nie vir sensitiewe kykers nie en het ʼn ouderdomsbeperking van 13.

Kaartjies vir die Pretoria-vertoning is hier teen R150 per persoon beskikbaar. Kaartjies vir die Bloemfontein-vertoning is hier beskikbaar.

Intussen het Esté Meyer Jansen van Maroela Media met Piet gesels om bietjie meer oor die man agter die moorddossiere en ongeëwenaarde sukses uit te vind. Klik hier om na die onderhoud te luister.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Debbie ·

wat word van die sake wat hy nie oplos nie 99% sukses rate ….. hmmm

Sollie ·

Debbie… nog steeds beter as ons polisiemag sou ek dink ; )

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.