Van kaalvoetkind tot komediant

Mariette Loubser in “Toeris Toeris” (Foto: Lizelle Lotter)

Kyk, daar is mense by wie jy sommer dadelik tuis voel. Hulle lag maklik, gesels maklik, kuier maklik. Een van dié mense is Mariette Loubser, ʼn nuweling in die Afrikaanse skerpskertsmark (dis nou “stand-up comedy”, vir diegene wat nie weet nie).

Mariette het grootgeword op ʼn plaas in die Paarl-omgewing in die Wes-Kaap – maar dié kaalvoetkind het nooit kon raai dat haar kinderdroom, om aktrise en sangeres te word, een dag bewaarheid sou word nie.

Sy is net so tuis op die verhoog – sy het meer as 32 vertonings van haar eerste stuk, Wanneer trou jy?, binne 12 maande opgevoer (ook onder andere in Londen, Dublin, Amsterdam, Windhoek en Swakopmund). “Dit was belangrik vir my om eers gemaklik te raak met my eie identiteit, sodat ek nie van mense se opinie afhanklik sou wees nie. Dan maak dit nie saak wat mense dink nie, dit hang af wat jy dink en wat die Here oor jou sê.”

Dink jou ma-hulle jy’s snaaks? wil ek by haar weet. Sy lag. “Ja, my ma is my grootste aanhanger! As iets iewers gebeur dan moedig sy my aan, ‘jy moet iets hieroor skryf!’”

Mariette Loubser in “Toeris Toeris” (Foto: Lizelle Lotter)

Sy het musikale teater by die destydse Pretoria Technikon studeer en het agtergrond in kabaret, TV-aanbieding en radiowerk. Sy het al selfs blomme en dekor vir troues en funksies gedoen.

Volgens Mariette is die belangrikste terugvoer egter van die gehoor. “Dis as iemand ná die vertoning na jou toe kom en sê hulle het nie net lekker gelag nie, maar ook iets geleer. Dis regtig humbling. Wat is ‘humbling’ in Afrikaans?” wonder sy skielik. “Die hart van die nuwe vertoning, Toeris Toeris, is juis dat mense moet sien dat ons mekaar se andersheid kan geniet. Ons moet natuurlik nie ons morele kode te laat vaar nie, maar ons kan mekaar se kulture, verskille, andersheid, waardeer en geniet.”

Sy probeer bowenal eg wees op die verhoog – en dis duidelik wanneer sy self byna verdwaal op die afdraaipaadjies van haar vertelling. “Ek wil mense bemoedig, vir hulle wys daar is altyd hoop, want daar ís altyd hoop, maak nie saak hoe donker dit vir jou lyk nie. Dan sien jy miskien nog net nie die sonskyn aan die ander kant nie.”

Tussendeur al die gelag en laf wees, is daar ook ʼn stukkie erns. “Mense moet geliefd voel. Die Here is lief vir my net soos wat ek is, en uit daardie liefde kom genesing. Ek wil hê mense moet dit besef. Een stem kan ʼn verskil maak!”

Saam met haar op die verhoog is musikante met wie sy gemaklik voel en haar sang is net so verfrissend soos haar unieke manier van vertel.

Vinnige vrae aan Mariette:
* Gunstelingwoord?
“Vuilhond.” (Sy verduidelik dit kan skertsend gebruik word om na vriend of vabond te verwys of selfs lekker in die verkeer as ʼn ander motoris iets skielik en onverwags doen.)

* Gunstelingfliek?
“Die Afrikaanse film Vir die voëls en enigiets van Katinka Heyns.”

* Gunstelingliedjie?
Sy lag. “‘Saai die waatlemoen’! As ek myself kry, dan is ek besig om dit te neurie.”

* Wie of wat inspireer jou?
“Mense wat net hulleself is.”

* Een ding waarsonder jy nie kan klaarkom nie?
“Die Here. Regtig.”

  • Mariette is binnekort by Aardklop in Potchefstroom te sien en op 17 November in Windhoek.
  • Toeris Toeris wys Vrydag 14 September om 19:00 by die Durbanville Auditorium by Hoërskool Durbanville (hoek van Durban- en Langenhovenstraat) in Kaapstad. Kaartjies kos R130 en is beskikbaar by [email protected]

Wen

Drie gelukkige Maroela-lesers kan elk ʼn dubbelkaartjie wen na Mariette Loubser se vertoning, Toeris Toeris, op 14 September 2018 om 19:00 by die Durbanville Hoërskool Ouditorium in Kaapstad! Skryf nou in:

Oops! We could not locate your form.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.