Verhoog-ikone gee Huis Silwerjare nuwe lewe

Arina de Witt en Hennie Smit in 'As drome vlerke kry'. Foto: Verskaf

Arina de Witt en Hennie Smit in ‘As drome vlerke kry’. Foto: Verskaf

ʼn Nuwe Afrikaanse verhoogproduksie, As drome vlerke kry, vertel die storie van twee voormalige wêreldbekende vermaaklikheidskunstenaars wat weer die piek van hul beroep wil beleef op die verhoog van Huis Silwerjare.

Die verhaal handel oor Aria Von Waltzleben (Arina de Witt) wat in die sestigerjare ʼn Las Vegas-ster en geesgenoot van Maria Callas en Edith Piaf was en Egbertus Wolmarans (Hennie Smit), ʼn ewe-beroemde vermaaklikheidster van weleer.

Dié twee inwoners gaan die sterre van Huis Silwerjare se “As Drome Vlerke kry” konsert wees.

Die bekende akteur en verhoogpersoonlikheid, Hennie Smit, gee as Egbertus Wolmarans ʼn komiese en nostalgiese blik op die lewenskonsert van oues van dae, waar werklikheid vervaag en latente talent en gebore vermaaklikheidsterre se verslawing aan applous op die voorgrond tree.

Smit is bekend vir verskeie rolle in radioproduksies van onder meer Springbok Radio en die SAUK.  Hy was vir twee dekades te sien in die rol van Bertie in die sepie Egoli.

De Witt, in die rol van Aria, sing bekende liedere van Edith Piaf, Maria Callas en Nana Mouskouri.  Die omvang van haar stem, veelsydigheid in verskillende genres en tydlose repertoire in verskeie tale, bly haar unieke stempel.

Regisseur Frans Swart sê dié produksie is ʼn unieke vertelling van menswees en behoort in 2016 ʼn treffer te wees.  “Hierdie stuk is spesiaal vir Hennie en Arina geskryf. Dit is ʼn roerende toneelstuk oor oudword en hoe mens steeds jou rol in die lewe speel.  Hennie is ʼn ikoon in Suid-Afrika en Arina is ʼn aktrise van formaat, maar ook een van SA se top soprane.  Saam vorm hulle ʼn ongelooflike span.”

Besprekings kan gedoen word by Computicket.  Groepe van meer as tien kan (011) 815-3000 skakel vir afslag.  As jy As Drome Vlerke Kry vir jou dorp of stad wil bespreek, skakel Lefra Produksies by (011) 815-3000 of stuur ‘n e-pos aan [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.