[Video] Aardklop: Simoné Nortmann gee feesraad

Simoné Nortmann (Foto: Facebook)

Die Vir die voëls-aktrise Simoné Nortmann het vandeesweek haar solodebuut by die Aardklop Nasionale Kunstefees op Potchefstroom gemaak met haar produksie, Los asseblief ʼn boodskap.

Dié produksie gaan oor die platsak popster Nina van Zyl in die laat 90’s – haar loopbaan se prille jeug is verby en die vooruitsig van ʼn terugkeer na die poptoneel lyk maar bra skraal.

Op ʼn dag kry Nina ʼn onverwagse oproep van haar eks-kêrel – Dirk – wat sê hy het kanker. Hy nooi haar na ʼn afskeidspartytjie in die Kaap, maar sy is brandarm. Sy vat die langpad van Johannesburg na Kaapstad, dorp tot dorp. Miskien kan sy hom een laaste keer sien, en miskien kan sy ʼn paar konserte hou.

Haar toer deur die land en die mense wat sy op elke dorp ontmoet, sorg vir groot pret én groot lesse – oor die lewe en oor haarself.

“Die hele proses van ʼn solostuk aanmekaar sit is vreesaanjaend. Die eerste paar weke het ek elke nou en dan huis toe gery en gewonder: ‘Wat maak ek met my lewe?’ Ek het so amper-amper kop uitgetrek. Maar as jy eers in die ding is kan jy dit begin geniet en pret daarmee hê – die belangrikste vir my is dat mense dit geniet,” vertel sy.

Los asseblief ʼn boodskap is nog te sien op 5 Oktober om 16:00, 6 Oktober om 16:00 en 7 Oktober om 15:00. Die verhoogproduksie het ʼn ouderdomsbeperking van 13. Kaartjies kos R120 en is beskikbaar by Computicket.

Maroela Media het Nortmann vir háár beste Aardklop-feesraad gevra.

Aardklop ondersteun die Teaterbystandsfonds – die kunste en vermaaklikheidsbedryf se enigste hulpfonds. As geregistreerde niewinsgewende-organisasie (wat 18 A Belastingaftrekkingsertifikate uitreik) is die TBF  totaal afhanklik van donasies om veral hulpbehoewende bejaarde kunstenaars te onderhou. Jou donasie is die applous wat ʼn lewe kan red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.