Video: Agter die skerms by ‘Los asseblief ʼn boodskap’

los asseblief 'n boodskap

Simoné Nortmann as Nina van Zyl. (Foto: Chanél van der Merwe)

Die toneelstuk Los asseblief ʼn boodskap het verlede jaar op die Aardklop Nasionale Kunstefees gedebuteer en soveel lof ontvang dat die vervaardigers besluit het om die produksie weer op die planke te bring – dié keer by die Atterbury-teater in Pretoria vir twee spesiale vertonings.

Die eenvroustuk, met Simoné Nortmann in die hoofrol, handel oor Nina van Zyl, ʼn platsak popster in die laat 90’s. Dit gaan nie baie goed met haar nie. Haar loopbaan het albei voete in die graf en sy sukkel al vir ses jaar om te skryf.

Nina kry ʼn onverwagse oproep van haar ekskêrel wat sê hy het kanker. Hy nooi haar na ʼn afskeidspartytjie in die Kaap, maar sy is brandarm. Sy vat die langpad van Johannesburg na Kaapstad, dorp tot dorp. Miskien kan sy Dirk nog ʼn laaste keer sien, en miskien kan sy ʼn paar konserte hou.

Op elke dorp van haar toer beland Nina in situasies wat haar vooropgestelde idees oor haarself oopkraak. Die karakters wat sy ontmoet, nuut en oud, help haar om haar verlede, gekenmerk deur vernedering en selfsugtigheid, te verwerk. In elke toneel word ʼn muur afgebreek: haar narsisme, haar vrees en haar spyt. Aan die einde “maak” sy dit deur die plattelandse Suid-Afrika as ʼn beter mens. Soort van.

Die teks is geskryf deur Louis Roux. Roux is ook die skrywer van die stuk Piekniek by Mpande née Dingaan, wat vanjaar vir ʼn Fiësta-toekenning benoem is.

los asseblief 'n boodskap

(Foto: Chanél van der Merwe)

Maude Sandham, wat spesialiseer in fisieke teater en teaterskepping, behartig die regie en vertel sy en Roux stap al ʼn lang pad saam. “Ons het baie saamgewerk toe ons jonger was. Toe hy terugtrek Johannesburg toe ná sy studie aan die Universiteit Stellenbosch, het hy reeds die stuk geskryf en my toe gevra om die regisseuse te wees. Die stuk het baie verskillende karakters en omgewings en is tot ʼn mate baie fisiek – dit is ʼn baie verbeeldingryke reis waarop Nina gaan en daar is baie choreografie.”

Roux vertel hy het die rol van vervaardiger aangeneem nadat hy die teks geskryf het. “Die slimste ding wat ek as vervaardiger gedoen het, was om ʼn fantastiese span bymekaar te sit. Maude is ʼn ongelooflike regisseuse en Simoné is natuurlik ook fantasties,” het hy gesê.

“Stefan Benade se stelontwerp is ongelooflik, Marius van Wyk is ʼn musikale genie en Ilana Cilliers sit net die kersie op die koek van die teks. Ek het seker gemaak ek omring my deur mense wat weet wat hulle doen en dit het natuurlik my werk ook baie makliker gemaak.”

Volgens Roux het die Aardklop-gehore die produksie geniet. “Mense het baie daarvan gehou om vir Simoné in ʼn nuwe lig te sien. Dit is ʼn aangename verrassing vir mense om te sien sy speel baie ‘groter’ op die verhoog as wat ʼn mens op televisie kan, sy speel ʼn klomp verskillende karakters én sy sing en dans.”

Sandham sê sy glo Nina is ʼn sterk karakter. “Sy is sterk, want sy het haar aan hierdie belaglike droom toegewy, ondanks al die opdraandes en mense wat nee sê.”

“Die stuk is baie snaaks en baie pret. Die stel blink en die musiek is ongelooflik catchy. Dit is soos om na ʼn popkonsert toe te gaan, maar met al die hart en siel en opregtheid.”

Los asseblief ‘n boodskap word op 6 en 7 Februarie by die Atterbury-teater in Pretoria uitgevoer. Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

Luister na die volledige onderhoud met Louis Roux.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.