Video: Christel en Markus gesels oor ‘Tussen die bokse’

Christel van den Bergh en Markus Haywood vertolk die rolle van Harry en Jackie. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Christel van den Bergh en Markus Haywood vertolk die rolle van Harry en Jackie. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Aanvaarding en verlies. Dit is die twee woorde wat dadelik by Christel van den Bergh en Markus Haywood opkom wanneer hulle gepols word oor die tema van die toneelstuk Harry en Jackie: Tussen die bokse, wat tans by die Aardklop Nasionale Kunstefees te sien is.

“Harry en Jackie Carstens is sewe jaar getroud en het probleme soos enige ander paartjie,” vertel Haywood, beter bekend vir sy rol as Willem Spies in die SABC2-sepie 7de Laan. “Hulle is besig om te verhuis en terwyl hulle pak, besluit Jackie sy wil skei.”

Hoewel Jackie baie lief is vir Harry, luister hy nie vir haar nie en dit veroorsaak dat sy raadop en moedeloos is oor die verhouding. “Harry is slapgat en hy dink alles is ʼn grap. Hy is ʼn gemaklike ou en vermy konfliksituasies en ernstige gesprekke.”

Die teks is deur Christo Davids geskryf en die regie is ook deur hom behartig. “Christo is ʼn ongelooflike regisseur. Ek en Markus is albei nogal windgat en hy hou goed met ons uit,” skerts Van den Bergh.

“Regisseurs oor die algemeen hou nie daarvan as jy te veel vrae vra nie, maar Christo is nie so nie. Daar is geen ego betrokke nie en hy is nie bang dat iemand sy krediet by hom gaan wegneem nie. Vir Christo is die belangrikste gedeelte die storie en dat ons getrou daaraan moet wees. En niemand, nie die regisseur, skrywer óf akteurs, moet ooit dink hulle is beter as die storie nie. Ek dink dit is wat hom so goed maak.”

Haywood vertel dat die teks hom dadelik aangegryp het. “Tussen die bokse se teks is een van die bestes wat ek al gelees het – ek kan dit nie lees sonder om te huil nie. Dit het dus geen oortuiging geverg vir my om betrokke te raak by die produksie nie.”

Van den Bergh en Haywood vertel hulle het mekaar glad nie geken voordat hulle saam aan die produksie begin werk het nie. “En dis nogal ʼn intieme produksie. Christo het net gesê ons moet lief raak vir mekaar, so ons het baie tyd saam deurgebring deur saam te gaan uiteet en te gesels om mekaar beter te leer ken.”

Haywood was betrokke by jeugteater voordat hy die rol in Tussen die bokse losgeslaan het. “Dit is die eerste produksie waarin ek speel wat by feeste uitgevoer word. Dit is fantasties om saam met uiters ervare mense in die bedryf te werk wat jou kan help. Daar was klein goedjies waaroor ek aanvanklik bekommerd was, soos my stem en bewegings, omdat ek meestal televisie doen. Die vaardighede wat jou goed maak op televisie, is die vaardighede wat nié werk in teater nie.”

Van den Bergh vertel sy is ook opgewonde om terug te wees op die verhoog. “Ek was vier jaar laas op die verhoog in die klug Vat hom Flaffie saam met Chris van Niekerk. Die verhoog is my wortels, my eerste liefde. Ek is baie dankbaar en trots om deel te wees van Tussen die bokse.”

Sy verklap dat sy vyf minute voor elke vertoning haar oë toemaak en probeer om haar kop skoon te maak en skerts dat Haywood ʼn langer proses het om in karakter te kom. “Hy sit sy oorfone in en luister musiek sodat hy my praatjies kan vermy,” lag sy.

“Partykeer doen ek ʼn paar push-ups voor ʼn vertoning, maar ek weet nie hoekom nie,” voeg Haywood laggend by.

Die twee akteurs het dit eens dat dit veral paartjies is wat langer saam is, wat aanklank vind by die toneelstuk. “Dit is gewoonlik ouer paartjies wat bly sit en die trane afvee. Tydens die Vryfees het ek besef dat ʼn paartjie met probleme in die gehoor kan sit, en na hierdie ding kan kyk en besef hulle wil die verhouding waarin hulle is, laat werk, maak nie saak wát nie. Dit is wat vir my so mooi is – iemand kan daar uitstap en ons het miskien sy of haar hele lewe verander,” sê Haywood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Rooikop ·

In 7de laan het hy n bos hare ……………..waar is sy hare nou ? Of is hy eintlik bles ???

Geelsnor ·

@Rooikop, 7de Laan word maaaaande vooruit geskiet, en 2, n hoed kan baie wegsteek!

Afrikaanse Knaap ·

Harry klink vir my soos ‘n gewone ou. En Jackie wat haar man wil los vir sulke onbenulligheid, klink vir my ook soos ‘n gewone vrou. Ek sal graag die produksie wil sien.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.