Video: Komedie-trio laat skare skaterlag in ‘Laerskool Noord’

Margit Meyer-Rödenbeck, Marion Holm en Ilne Fourie op die stel van ‘Laerskool Noord’. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck en Ilne Fourie wil gehore met hul verhoogkomedie Laerskool Noord laat lag.

Nie ʼn sagte, skaam of “ordentlike” lag nie, maar ʼn diep en byna lelike lag wat die trane onophoudelik laat rol en die maagspiere behoorlik laat oefen. Daardie tipe lag wat voel of dit nie end het nie.

Laerskool Noord is ʼn absolute ‘moet’ vir die van ons van die afgelope paar jaar verleer het om te lag,” vertel Meyer-Rödenbeck oor dié produksie, wat tans as deel van Momentum Beleggings Aardklop by die AfriForum Teater in Pretoria en Hoërskool Linden in Johannesburg te sien is.

Maroela Media het vroeër berig dat dié produksie se “driemanskap” die rolle van drie uiteenlopende onderwyseresse vertolk wat ʼn verrassingsafskeidspartytjie vir hul uittredende skoolhoof beplan.

‘Laerskool Noord’ beloof om hope pret vir die hele gesin te wees. (Foto: Verskaf)

Boonop sit hulle in afwagting om te hoor of een van hulle dalk “Meneer”- wat deur Neels Coetzee vertolk word – se skoene as skoolhoof gaan moet vul.

Laerskool Noord is ook uit die grendeltyd geskep en daarom is die hoofdoel om kykers uit hul “Covid-19-put” te haal, sê Meyer-Rödenbeck, wat die rol van Laerskool Noord se netbaljuffrou, Zelda, vertolk.

“Dis lig, maar nie oppervlakkig nie en die doel is nie om swaar onderwyskwessies te takel nie, maar net om mense ʼn bietjie te laat lag, want Covid-19 het ons min gegee om oor te lag. Jy moet lag dat die trane rol.”

Ilne Fourie, wat nie net die verhoogstuk geskryf het nie, maar ook die rol van die sagte en sorglose Marietjie daarin vertolk, het ook vroeër aan Maroela Media vertel dat Laerskool Noord se humor uniek is omdat elkeen in die gehoor op die een of ander manier daarby aanklank kan vind.

“Ek dink die milieu van die onderwys is net so bekend! Herkenning is vir my die suiwerste vorm van komedie. Of jy nou jouself of iemand wat jy ken, raaksien in die karakter – jy gaan lag, want jy ken dit so goed.”

Vir Holm is lag ook broodnodig, veral gegewe die impak van die Covid-19-pandemie op die kunste.

Dié bekroonde aktrise, regisseur en skrywer, klim in die dramajuffrou, Bets, se kleurvolle skoene (en kopdoek) in Laerskool Noord.

Aardklop lê elkeen van dié aktrises ook baie na aan die hart en daarom benadruk hulle die feit dat die oorlewing van kunstefeeste nou meer as ooit in gehore se hande is.

“In plaas daarvan om te vrees dat Afrikaans gaan ‘uitsterf’, koop ʼn kaartjie om ʼn kunstefees te ondersteun en verseker só dat teater, dans, kuns en musiek in dié mooie taal kan voortleef,” sê Holm.

Koop vandag nog jou kaartjie vir Laerskool Noord:

AfriForum Teater, Pretoria

Datum en tyd: 5 Okt. 19:00; 6 Okt. 10:00; 7 Okt. 19:00

Kaartjies is beskikbaar by: AfriForum Teater.

 

Beeld Hoërskool Linden-skoolsaal, Johannesburg

Datum en tyd: 6 Okt. 19:00; 7 Okt. 09:30; 8 Okt. 16:00; 9 Okt. 16:00

Kaartjies is beskikbaar by Ticketpro.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.