Video: ʼn Vars benadering tot komedie

Jimmy in Pienk begin 16 Augustus in teaters draai.

ʼn Video van die première van Jimmy in Pienk volg onderaan die berig.

Jimmy in Pienk vertel die storie van Jimmy Bester, ʼn mielieboer wat uiting gee aan sy kreatiwiteit deur middel van skaapskeerdery. Wanneer sy pa onverwags sterf en hy donker geheime van sy pa se finansies ontdek, dwing omstandighede hom om sy pa se ryk tweelingbroer, Frederique, in die Kaap te gaan soek. Die enigste manier wat Jimmy sy familie en plaas gaan red is om sy kakiebroek en vellies eenkant toe te gooien deel te neem aan ʼn haarstiliskompetisie.

Regisseur en draaiboekskrywer, Hanneke Schutte, was vroeër vanjaar een van die wenners van die Jameson First Shot-kompetisie en het gevolglik saam met groot name soos Willem Dafoe en Kevin Spacey gewerk. Volgens Hanneke is ons plaaslike filmbedryf se produksiespanne op dieselfde standaard as die internasionale bedryf s’n . “Almal vra vir my wat ek daar geleer het en hoe dit was om saam met die produksiespanne te werk.  Ek sê vir almal dat dit presies dieselfde as ons plaaslike spanne is en dat ons op dieselfde vlak as hulle is,” het Hanneke gesê.

Louw Venter vertolk die rol van Jimmy en volgens hom gaan die gehoor met dié karakter kan identifiseer. “Daar is ʼn bietjie van Jimmy in almal van ons wat intimideer word deur die groot stad en mense wat meer gesofistikeerd is as ons.”

Jimmy in Pienk is ʼn vars benadering tot komedie. Dit raak ook belangrike sosiale kwessies op só manier aan dat dit nie voel of jy “opgevoed” word nie.  Jimmy in Pienk begin 16 Augustus in teaters draai en is definitief die kyk werd.

Ook met Gys de Villiers, Tinarie van Wyk-Loots, Terence Bridgett, Gérard Rudolf en Shaleen Surtie-Richards as storieverteller.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.