Video: ‘Nagskofkliek’ ʼn komedie met ʼn donker kant

Melt Sieberhagen vertolk die rol van Hans Gouws. (Foto: Johan Prinsloo)

Hans Gouws is vir die agtste agtereenvolgende Paasnaweek aan diens by die pakhuis waar hy as veiligheidswag werk. Alleen. Maar alleen pla nie vir Hans nie. Hy is heeltemal tevrede daarmee om met die winkelpop in die hoek te gesels.

Dan verskyn Man. Man soek antwoorde en hy gaan nêrens tot hy dit gekry het nie. Hoe moet dit wees om met die weergawe van jouself te praat wat jy nog altyd gedink het jy wil wees – en wat gebeur as jy nie meer vir jouself kan jok nie?

Dít is die vraag wat ondersoek word in die produksie Nagskofkliek wat dié naweek vir die eerste enigste keer voor Gautengse gehore aangebied sal word.

Nagskofkliek, geskryf deur Retief Scholtz, en met Melt Sieberhagen en Albert Pretorius op die verhoog, het vroeër vanjaar by Innibos gedebuteer. Die produksie het baie positiewe reaksie by teatergangers ontlok, tot só mate dat dit Pretoria toe gebring word voordat dit vir ʼn paar speelvakke in die Wes-Kaap sal draai.

Sieberhagen is bekend en geliefd onder Suid-Afrikaners as komediant en verskyn nou vir die eerste keer in jare op die verhoog as ʼn karakter. Maar oor dié uitdaging is hy geensins gespanne nie. “Dit is ongelooflik lekker en so ʼn welkome afwisseling om ʼn karakter te speel,” vertel hy aan Maroela Media.

“Ek kry nie baie die kans om toneel te speel nie, so toe dié geleentheid hom voordoen, kon ek nie maklik nee sê nie. Ek sal dit nie as ʼn uitdaging bestempel nie, eerder net as ʼn baie anderste ervaring. Ek geniet dit soveel meer as wat ek aanvanklik verwag het ek sou. Die hele kreatiewe proses daarvan en om weke lank te repeteer en dit oor en oor te doen sodat die stuk al hoe beter en beter raak, is so vervullend. Dit is vir my eerder opwindend as uitdagend.”

Nagskofkliek is wel ʼn komedie, maar beslis een met ʼn donker kant. “Ek dink die stuk tref ʼn paar genres, dit is meer as net een ding,” sê Sieberhagen. “Ja, daar is komedie in, maar die stuk maak nie staat op die komedie om op sy voete te staan nie. Daar is ook donker dele en dit bied die gehoor ʼn goeie mengsel van die twee.”

‘n Toneel uit “Nagskofkliek”. (Foto: Mia Louw)

Scholtz verduidelik dat hy altyd met sy werk probeer om ʼn balans te handhaaf tussen lig en donker, hartseer en snaaks. “My doel is nie om lessies te leer nie, maar om bloot na iets te probeer kyk vanuit ’n ander hoek. Ek hoop altyd mense stap uit die teater uit en kon op een of ander vlak met die karakter vereenselwig,” sê hy.

Hy verduidelik die inspirasie vir Nagskofkliek kom uit twee afsonderlike idees. “Ek vind stoorpakkamers baie interessant. Die goed was ons bêre – soms vir jare, soms vir altyd – wat ons nie nou nodig het nie, maar ook te sentimenteel is om te laat gaan. Dit word gestoor en nooit gebruik nie. Weggepak sodat mens nie die heeltyd daaraan hoef te dink nie, maar tog weet dit is iewers.

“Die tweede gedagte het gekom uit iets wat ek glo baie van ons doen. Wanneer ons dink, ‘as ek net ’n bietjie meer só was, of net ’n bietjie minder só’. Wanneer ons aan ons perfekte self dink. Die twee gedagtes het saamgevloei. Die goed wat ons van onsself probeer vergeet, of probeer ‘stoor’ en wat gebeur wanneer jy die dinge nie meer kan ignoreer nie.”

Die regie van die stuk word deur Etienne Fourie, bekend vir sy films Die Windpomp, Dis koue kos, skat, en Liewe Kersfeesvader, behartig. Scholtz beskryf die samewerking tussen Fourie, Sieberhagen en Pretorius as ʼn “wonderlike kombinasie”.

Albert Pretorius in “Nagskofkliek”. (Foto: Johan Prinsloo)

“Melt en Albert is wonderlike, hardwerkende akteurs wat nie skroom om diep te grou om by te dra tot hulle karakter nie. Die twee saam met Etienne is ’n wonderlike kombinasie wat die woorde lewe gee,” sê hy.

Sieberhagen sê op sy beurt dit is vir hom ʼn uiters bevredigende ervaring om saam met Pretorius te werk. “Hy is so ʼn ervare akteur dat jy baie veilig voel saam met hom op die verhoog. Jy kan enige iets probeer en dit bons net altyd terug van hom af na jou toe. Sy selfvertroue laat jou rustig en veilig voel, want jy weet hy is net so professioneel,” sê hy.

Sieberhagen sê die positiewe reaksie wat Nagskofkliek by Innibos uitgelok het, gee hom nog ʼn ekstra skoot gemoedsrus oor die produksie. “Dit is altyd so lekker om positiewe reaksie op so ʼn stuk te kry. Een van my vriendinne het na die tyd na my toe gekom en gesê sy gaan my nou uittrap omdat ek haar laat huil het. So, dit is altyd ʼn goeie ding om dit te hoor as jy by ʼn verhoog afstap!”

Die span is juis nou besig om te repeteer vir twee vertonings wat hierdie naweek in die Atterbury-teater in Pretoria sal plaasvind. Daarna gaan Nagskofkliek Wes-Kaap toe waar dit volgende jaar by ʼn paar verskillende speelvakke te sien sal wees.

Nagskofkliek is iets waarby enige gehoor kan aanklank vind,” sê Scholtz. “Dit sal jou vir ’n uur wegvoer in ’n ander mens se lewe in wat jy nie noodwendig ken wanneer jy daar instap nie, maar voel of jy doen wanneer dit verby is. Dis ’n gewone ou met ’n gewone lewe en ’n storie wat ons almal al een of ander stadium self beleef het. En die besef, wees versigtig waarvoor jy wens. Dit word dalk net waar.”

Nagskofkliek is Sondag 18 Augustus om 15:00 en 18:00 by die Atterbury‑teater in Pretoria te sien. Kaartjies beskikbaar by iTickets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.