Video: Paul du Toit, Jenna Dunster in nuwe Marais-stuk te sien

Paul du Toit (Foto: Verskaf)

Nadat Paul du Toit verlede jaar met ʼn Fiësta-toekenning vir die beste akteur in ʼn teaterproduksie vereer is, keer hy vanjaar terug na die verhoog saam met die aktrise Jenna Dunster om Eugène Marais se tydlose Uit die bloute-teaterstuk weer nuwe lewe te gee.

Dit is glo die tydloosheid van Marais se stories en gedigte asook die sukses van die 1996-speelvak wat gelei het tot die hernuwing van dié teaterstuk.

Verskeie gedigte en twee verhale, Salas Y Gomez en Die lied van die reën, word in dié stuk ingespan.

Uit die bloute is fisieke teater én storievertelling en die stel is gestroop om die verbeelding vrye teuels te kan gee. “Ek dink die feit dat dit ʼn herlewing van die stuk is, wys hoe universeel en tydloos Uit die bloute werklik is,” vertel Du Toit. “Die storie is aanvanklik in die 1920’s geskryf, vir die eerste keer in die 90’s opgevoer en nou leef die stuk vanjaar weer voort. Dit is boonop ʼn genre van sy eie. Dis amper onmoontlik om te beskryf omdat soveel genres in een verhoogstuk verweef word. Dis iets wat die teaterganger gaan meevoer en bybly.”

Jenna Dunster (Foto: Verskaf)

Jenna Dunster, dogter van die akteurspaar Wilson Dunster en Elize Cawood, sê oor dié stuk: “Dis ware storievertelling. Daar is pragtige klankeffekte en wonderlike verrassings. Dit gaan ʼn unieke ervaring wees en ons wil graag Eugène Marais se wonderlike stories met teatergangers deel.”

In Salas Y Gomez word die jong boer, Hendrik du Preez, maande lank vasgekeer op ’n rotslys ná ’n rotsstorting. Hy kan die plaashuis sien waar sy jong bruid, Ragel, treur, maar niemand kan hóm hoor of sien nie. Later sien hy die kêrels by sy Ragel opdaag, want almal dink hy is dood. Sy pyn, depressie, angs en woede word in die storie vasgevang en deurentyd word die musiek ingespan om byklanke en gemoedstemming te skep.

Die lied van die reën is ’n Koranna-dwaalstorie oor water, mag en uiteindelik verlossing – en dit resoneer ná byna ’n eeu opnuut in die hedendaagse samelewing.

Lizanne Barnard het die musikale verwerkings gedoen en word bygestaan deur ʼn groep musikante wat op oorspronklike wyse die klankeffekte optower. Henriëtta Gryffenberg is verantwoordelik vir die regie.

Uit die bloute debuteer vanjaar in die Nelspruit-stadsteater by die Innibos-kunstefees. Die stuk is te sien op 27 Junie om 10:00; 28 Junie om 18:00; 29 Junie om 20:00 en 30 Junie om 10:00. Kaartjies kos R142. Bespreek by Computicket. Besoek ook Uit die bloute se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.