[Video] Vrystaat Kunstefees: ‘Longe’ gaan jou uitdaag

Longe (Foto: Facebook)

Longe (Foto: Facebook)

Longe, ʼn verhoogproduksie wat eersdaags by die Vrystaat Kunstefees te sien is, vra ʼn fundamentele vraag: Indien ʼn kind se koolstofspoor 10 000 ton CO2 is, die gewig van die Eiffeltoring, is dit wérklik wys om nog ʼn mens in die wêreld te bring?

Dié produksie vertel die storie van ʼn gesprek tussen twee geliefdes, net bekend as Man en Vrou, oor ʼn leeftyd. “Hul lewe word opgesom deur ʼn reeks oomblikke, wat meestal vlietend en soms ʼn kort asemteug is. Op ʼn dag ontstaan ʼn moeilike debat tussen hulle oor kinders kry en dié gesprek ontwikkel tot die besef van ʼn universele verantwoordelikheid: die aarde,” het Barend Strydom, mediabestuurder vir die produksie, gesê.

Dié besef van verantwoordelikheid teenoor die aarde is so intens, dat die paartjie met die vraag wroeg: As jy omgee vir die planeet, is dit verantwoordelik om kinders te hê?

“Ons begrip van tyd word uitgedaag, waar die verhouding van meer as 50 jaar in 75 minute opgesom word. Die afwesigheid van teksaanwysings, die gebruik van tipografie en die veelvuldige gebruik van kommas (asemteue), herinner aan ʼn gedig.”

JP du Plessis, wat die teks uit Engels (Lungs) na Afrikaans vertaal het en die regie behartig, sê dié teks is darem nie swaar nie, maar eerder verfrissend en komieklik.

“Jy kan jou met die stuk vereenselwig. Hilletje Möller Bashew en Jan Brink speel die rolle met deernis en so lig as moontlik, maar vra belangrike vrae wat mense nie gewoonlik met mekaar deel nie,” het hy vertel.

Ander fundamentele vrae word ook in die stuk aangespreek.

Longe gee ook ʼn stem aan ʼn generasie waar onsekerheid die sleutelwoord is. Vrae soos ‘Is ek ʼn goeie mens?’ ‘Sal ek ʼn goeie ouer wees?’ ‘Watter soort wêreld sal vir die kinders nagelaat word?’ word ook gevra,” het hy bygevoeg.

Longe is op 13 Julie om 20:30, 14 Julie om 15:30 en 16 Julie om 14:00 te sien by die OFM Albert Wessels Ouditorium. Kaartjies kos R120. Die produksie duur 75 minute. Bespreek kaartjies op Computicket.

Besoek ook die produksie se Facebook-blad. Die Vrystaat Kunstefees vind vanjaar plaas tussen 11 en 16 Julie.

Kyk ook die lokprent vir die video hier.

Longe lokprent

Een van vanjaar se moet-sien produksies by die Vrystaat Kunstefees. Kaartjies aanlyn beskikbaar by http://goo.gl/0CJdcv #longe #VSKunstefees

Posted by Longe on Monday, June 20, 2016

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

EMK ·

Moet mens kinders hê? Klink vir MY na ‘n vraag wat elke mens (met ‘n werkende brein!) vandag moet vra – die aarde kan net soveel mense dra en ons is lank verby daardie perk!Q

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.