Waterskaarste ook op die verhoog onder die loep

Tinarie van Wyk Loots maak haar debuut as regisseur (Foto: Verskaf)

ʼn Relevante drama oor waterskaarste maak vanjaar sy debuut by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) – dít te midde van ʼn werklike watertekort wat veral die Wes-Kaap in die gesig staar.

In Bauke Snyman (48) se drama Swerfgoed word elke nagmerrie oor waterskaarste werklikheid: 50 ℓ water per dag per persoon is lankal niemand meer beskore nie. Water is só skaars dat mense enigiets sal doen om dit in die hande te kry – selfs moord pleeg.

Swerfgoed is reeds sowat agt jaar gelede geskryf, maar onlangs opgeraap om as produksie aangebied te word.

Snyman, wat al voorheen met die Sanlamprys vir Afrikaanse toneel vereer is, sê die dryfkrag agter dié stuk was onder meer die Griekse dramaturge Aeschylus se Oresteia-trilogie en Euripides se Iphigenia in Aulis-verhoogstuk. Van groot inspirasie was ook Al Gore se dokumentêre rolprent An Inconvenient Truth oor aardverwarming en sy eie ervaring in Grahamstad in die Oos-Kaap waar die munisipaliteit se infrastruktuur begin ingee het.

“Ons was dae lank sonder water in Grahamstad – óf een deel van die dorp was kurkdroog en ’n ander deel was oorstroom weens die soveelste gebarste waterpyp. ’n Mens het nooit geweet as jy ’n kraan oopdraai of daar water gaan wees nie. Soms het daar ’n dik modderstraal uitgeborrel of ’n blasende, sissende droogheid was jou voorland,” vertel hy.

Swerfgoed vertel die verhaal van die inwoners van Motel Stillewater waar ’n “eienaardige” groep mense op ’n godverlate vlakte woon. Dit speel af in die toekoms waar water die duurste hulpbron op aarde is. Ingeweef by dié stuk is die verskrikking van werklikheid wat tot magiese realisme lei.

Die veelbekroonde aktrise Tinarie van Wyk-Loots maak haar debuut as regisseuse in dié stuk. Die aktrise meen dié stuk is ʼn storie wat nóú vertel moet word. “Dit is alles net ongelooflik. Swerfgoed se tyd is nóú. Dis daunting, ja, maar geweldig opwindend en ook bevrydend.

“Die stuk spreek ook ander temas aan: kwessies rakende grond, die individu versus die massa, die sondes van die vaders, die morele waardes waarmee keuses gemaak word, asook wraak en vergelding. Dit is ’n cautionary tale. Dit vertel hoe water ’n werktuig en ’n verskoning vir geweld word. Dit vertel hoe dié belangrike hulpbron die beste en die slegste in mense na vore bring,” vertel sy.

Anna-Mart van der Merwe, Nicole Holm, Richard September en Andrew Laubscher is in die stuk te sien. Dié span het reeds in Desember verlede jaar met repetisies begin.

Die KKNK word van 29 Maart tot 4 April op Oudtshoorn aangebied. Die volledige feesprogram is beskikbaar op die KKNK-webwerf.

Swerfgoed is op 29 Maart om 10:00, 30 Maart om 15:00, 31 Maart om 17:00, 1 April om 16:00, 2 April om 20:00 en 3 April om 10:00 in die Gimsaal te sien. Kaartjies kos vooraf R135 en R150 by die deur. ’n Gratis gesprek word ná afloop van die vertoning op 29 Maart met die geselskap aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.