[Wen] ‘Daa’ gaat die bruid!’ gaan jou laat skater

Daa' gaat die bruid! (Foto: Verskaf)

Daa’ gaat die bruid! (Foto: Verskaf)

Die klugkoning, Frans Swart, se Afrikaanse vertaling van Ray Cooney en John Chapman se weghol-treffer, Daa’ gaat die bruid!, is vanjaar by die Suid-Afrikaanse Staatsteater in Pretoria te sien tussen 19 en 24 Julie.

Die oorspronklike There goes the bride is een van Cooney en Chapman se suksesvolste West End-klugte tot op hede.

Frans Swart, wat die regie behartig, sê hy is baie opgewonde oor dié produksie. “Die lekkerte is dat hierdie klug nog nooit in Suid-Afrika opgevoer is nie en niemand ken dus die storie of ontknoping nie,” het hy gesê.

Daa’ gaat die bruid! vertel die storie van Judy (Debrè Rossouw) se troudag. Die familie spook omtrent om al die reëlings vir dié groot dag glad te laat verloop. Terwyl Judy en haar ma, Ursula (Edrien Erasmus), gereed is om kerk toe te vertrek, kry haar pa, Malan (Cobus Venter), die uitvoerende hoof van ʼn advertensiemaatskappy, ʼn hou op die kop en dan begin die poppe letterlik dans!

Ouma (Marga van Rooy), Judy die Bruid (Debre Rossouw) en Ursula (Edrien Erasmus). Foto: Verskaf

Ouma (Marga van Rooy), Judy die Bruid (Debre Rossouw) en Ursula (Edrien Erasmus). Foto: Verskaf

Polly (Ana van Achterbergh), ʼn pragtige meisie van een van sy advertensieveldtogte, kom maak amok. ʼn Seniele ouma (Marga van Rooy), ʼn moeilike oupa (Lieb Bester), ʼn verdwaalde skoonpa (Gert van Tonder) en ʼn flambojante assistent (Phillru van Achterbergh) wat op die verhoog ʼn draai maak, verseker ook lekkerlag-elemente.

“Ons almal weet dat die oggend voor ʼn troue redelik chaoties is. Veral as Oupa en Ouma nog van Bela-Bela af kom, die blomme nog nie daar is nie, spyseniers die hele huis vol is, die bruid se rok nie reg is nie en Pa nog besig is met ʼn belangrike kontrak! Dis asof daar ʼn vlaag energie in die produksie en in die gehore begin ontbrand, wat wonderlik is. Dis so lekker as mense na my toe kom en sê hulle het hul asem weggelag,” het Swart gesê.

Daa’ gaat die bruid! spog met akteurs soos Ana van Achterbergh, Cobus Venter, Debrè Rossouw, Edrien Erasmus, Gert van Tonder, Lieb Bester, Marga van Rooy en Phillru van Achterbergh.

Alle vertonings vind plaas in die Dramateater by die Suid-Afrikaanse Staatsteater in Pretoria van 19 tot 24 Julie. Bespreek jou kaartjies vir die produksie by Computicket of skakel 086 1915 8000. Vir groepbesprekings en gasvryheidspakkette, skakel Lefra Produksies by 011 815 3000 of stuur ʼn e-pos na [email protected].

Malan (Cobus Venter), Bobby (Phillru van Achterbergh), Gerhard (Lieb Bester). Foto: Verskaf

Malan (Cobus Venter), Bobby (Phillru van Achterbergh), Gerhard (Lieb Bester). Foto: Verskaf

WEN: Drie lesers kan elk ʼn dubbelkaartjie na Daa’ Gaat die Bruid wen vir Dinsdag, 19 Julie om 20:00 by die Staatsteater in Pretoria. Om deel te neem aan Maroela Media en Lefra Produksies se kompetisie, kan jy “Lefra Bruid Maroela Media” na 33000 SMS. Onthou om ook jou naam en van in te sluit.

Dieselfde inligting kan ook per e-pos gestuur word aan [email protected] met LEFRA & Maroela Media Bruid-kompetisie as onderwerp.

Wenners sal telefonies gekontak word en die beslissing van die redakteur is finaal. SMS’e kos R1,50 elk.

Die kompetisie sluit 17 Julie om 17:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.