[WEN]: Frank Opperman in ‘Hond’ by Die Blou Hond-teater

frank-opperman-hondIn die splinternuwe eenmanstuk Hond vertolk die veteraan-akteur Frank Opperman die rol van ’n man wat afskeid neem van sy hond wat te oud en siek is om veel langer te leef. Moet hy die hond laat uitsit, of nie?

Die man se huwelik is boonop aan’t wankel. Nes Opperman se vorige eenmanstukke, Die uwe Pottie Potgieter, Rooikaart en Die Klaagliedere van ds.Tienie Benade, het Dana Snyman weer die teks geskryf.

“Jerry is nou oud,” skryf hy. “Hy kan nie meer saans op sy eie by my op die bed kom nie – die bed het vir hom te hoog geword. Hy bring nie meer vir my sy voos gekoude tennisbal sodat ek dit vir hom moet gooi nie en draf ook nie meer blaffend nader vir ’n stukkie beskuit wanneer ek koffie drink nie. Hy slaap sy dae om. Jerry gaan lȇ voor die glasdeur in die woonkamer en kyk see se kant toe, asof hy vir iemand of iets wag. Ek gaan sit voor die rekenaar en roep die lȇer op met foto’s wat ek oor die jare heen van hom geneem het. Later skryf ek ’n stukkie oor hom en plaas dit op Facebook – die moderne manier van treur. Die reaksie daarop laat my gou minder alleen en desperaat voel.”

Die stuk is ’n bietjie hartseer en ’n bietjie snaaks, nes die lewe self. Hoekom word ’n mens so lief vir ’n hond? Omtrent almal wat naby aan honde lewe, sȇ dieselfde ding: ’n Hond aanvaar jou vir wie jy is, onvoorwaardelik. Miskien is die lewe so eenvoudig soos dit, ja: ’n Hond jok nie oor die liefde nie.

Die stuk het ʼn ouderdomsbeperking van 13 jaar. Kinders sal nie aanklank vind by die teks nie.

WEN: Twee lesers kan elk ʼn dubbelkaartjie wen na die vertoning van Hond, met etes ingesluit, op 15 Maart by die Blou Hond-teater in Darlingtonweg, Pretoria. Om in te skryf, stuur jou naam, van, kontaknommer, woonadres en jou antwoord op die volgende vraag na [email protected]: Wat is die ou hond in die toneelstuk se naam? Die kompetisie sluit 10 Maart. Wenners word per e-pos in kennis gestel. Bepalings en voorwaardes geld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.