Wen: ‘Los asseblief ʼn boodskap’ in Atterbury-teater

los asb 'n boodskap

Louis Roux, Simoné Nortmann en Maude Sandham. (Foto: Chanél van der Merwe)

Los asseblief ʼn boodskap, die toneelstuk wat gehore gaande gehad het tydens verlede jaar se Aardklop Nasionale Kunstefees, maak eersdaags ʼn draai op die planke in die Atterbury-teater in Pretoria.

Die solostuk met Simoné Nortmann van Vir die voëls-faam is op 6 en 7 Februarie in dié teater te sien.

Nortmann het verlede jaar op Aardklop gedebuteer as die platsak popster Nina van Zyl in die laat 90’s – haar prille jeug is verby en die vooruitsig van ʼn terugkeer na die poptoneel lyk maar bra skraal.

Op ʼn dag kry Nina ʼn onverwagse oproep van haar eks-kêrel – Dirk – wat sê hy het kanker. Hy nooi haar na ʼn afskeidspartytjie in die Kaap, maar sy is brandarm. Sy vat die langpad van Johannesburg na Kaapstad, dorp tot dorp. Miskien kan sy hom een laaste keer sien, en miskien kan sy ʼn paar konserte hou.

Haar toer deur die land en die mense wat sy op elke dorp ontmoet, sorg vir groot pret én groot lesse – oor die lewe en oor haarself.

Die teks is geskryf deur Louis Roux en Ernst Cilliers en Maude Sandham is die regisseuse. Stefan Benade behartig die stelbeligting en ontwerp en die musiek is deur Marius van Wyk verwerk.

“Liedjies van groepe soos Pearl Jam en Smashing Pumpkins se woorde word direk vertaal in Afrikaans en die klank is meer soos popmusiek. Die manier hoe Marius die musiek verwerk het sodat dit amper onherkenbaar is, is ongelooflik,” het Nortmann vroeër aan Maroela Media gesê.

Kaartjies vir Los asseblief ʼn boodskap kos van R120 tot R160 en is beskikbaar by Computicket. Die verhoogproduksie het ʼn ouderdomsbeperking van 13.

WEN: Agt gelukkige lesers kan elkeen ʼn enkelkaartjie wen na ʼn aanbieding van Los asseblief ʼn boodskap op 6 of 7 Februarie in die Atterbury-teater in Pretoria. Om in te skryf, stuur jou naam, van, kontaknommer, woonadres en antwoord na [email protected], en beantwoord die volgende vraag: Wie speel die rol van Nina van Zyl? Die kompetisie sluit op Maandag 5 Februarie. Wenners word per e-pos in kennis gestel. Die kompetisie is gesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

Pragtige jong dame, uitstekende aktrise, op tv en verhoog! Geniet haar vreeslik baie.

Jana de Witt ·

Ek wil graag een van Simone Nortmann se toneelstukke gaan kyk. Ek is mal oor haar, maar my ma het gesê kaartjies is te duur. Jana de Witt(15) Potchefstroom

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.