Wen: Mzansi Ballet se ‘Queen’ in Pretoria

Die Mzansi-balletgeselskap betree weer eersdaags die verhoog, dié keer in Pretoria, met die produksie The Queen Show wat vroeër vanjaar in Johannesburg te sien was.

Die musiek van die rockgroep Queen word gebruik in dié produksie, die eerste professionele balletopvoering in Gauteng sedert die begin van die inperkingstyd in Maart.

Angela Revie (vroeër Malan) en haar man, Michael Revie, is in dié produksie te sien en is ook verantwoordelik vir die choreografie. Michael was voorheen verbonde aan geselskappe in Zürich en Birmingham.

Die 18-jarige balletdanser Joshua Williams sluit aan by die rolverdeling van The Queen Show. Williams het op 13-jarige ouderdom die Suid-Afrikaanse Internasionale Balletkompetisie gewen en die prys het ʼn volledige beurs vir studie aan die Zürich-dansakademie ingesluit.

Sodra The Queen Show tot ʼn einde kom, is hy weer op pad na Duitsland waar hy hom by die Stephen Delattre-geselskap in Mainz gaan aansluit.

“Ek het onverwags deel geword van hierdie ongelooflike Suid-Afrikaanse produksie en ek is baie opgewonde daaroor,” vertel Williams aan Maroela Media.

Williams sê sy passie vir dans het reeds op jong ouderdom ontwikkel en is hy op die ouderdom van nege deur die bekroonde danser Julia Dickson ontdek. Hy het begin met hiphop en kontemporêre dans, maar die balletgogga het behoorlik gebyt toe hy op 11-jarige ouderdom, op aanbeveling van sy dansonderwyseres, begin het met balletklasse om hom fisiek sterker te maak.

Joshua Williams. (Foto: Facebook)

The Queen Show is beslis ʼn produksie wat deur die hele gesin geniet kan word. Daar is verskillende style van dans wat gemeng word en ons dans op die maat van die musiek van Queen. Die dansers is almal vol entoesiasme en kan nie wag om ná maande lange stilte weer op die verhoog te wees nie,” sê hy.

Die Kaapse dansers Aviwe November en Sikhumbuzo Hlahleni asook Alison Lee Sischy, Paige McElliot, Veronica Louw en Lize Mentz is ook deel van die produksie. David Hutt, wêreldwyd bekend as mode-ontwerper en stilis, is verantwoordelik vir die kostuumontwerp.

The Queen Show is van Donderdag 3 Desember tot Sondag 6 Desember by Monte de Dios in Pretoria te sien. Kaartjies is beskikbaar by Tixsa. Die Monte Dome is ʼn eerste in sy soort in Gauteng en bied ʼn teaterervaring onder die sterre. Verversings sal te koop wees. Alle Covid-19-protokol word streng toegepas tydens die vertoning.

Wen: Twee gelukkige lesers kan elkeen ʼn dubbelkaartjie wen na The Queen Show by Monte de Dios in Pretoria. Die kaartjies is vir die aanbieding op 3 Desember om 18:00. Die kompetisie sluit Sondag 29 November.

Bepalings en voorwaardes:

  • Die wenners sal lukraak uit die inskrywings gekies word.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Slegs twee wenners word aangewys wat elkeen ‘n dubbelkaartjie ontvang.
  • Die prys kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Die prys kan ook nie vir enige ander geleentheid omgeruil word nie.
  • Maroela Media is nie verantwoordelik vir reis- of verblyfreëlings nie.
  • Die prys bestaan uit een dubbelkaartjie vir The Queen Show by Monte de Dios in Pretoria op 3 Desember om 18:00.
  • Indien die wenner nie die betrokke vertoning kan bywoon nie, verbeur daardie persoon die dubbelkaartjie.
  • Die wenners se name sal op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Lees ons privaatheidsbeleid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.