As daar een ding is wat die formidabele Tannie Evita Bezuidenhout vir Suid-Afrikaners oor die afgelope 40 jaar geleer het, is dit dat ʼn mens ook maar ʼn bietjie plesier uit die aktuele politiek mag put.
Evita is natuurlik die alter ego van die satirikus Pieter-Dirk Uys en in sy teaterstukke kan jy maar weet jy gaan lag. Tog is dit nie alles net laf nie, hy stuur jou ook huis toe met baie om oor na te dink.
“Ja, dit moet ook so wees,” sê Uys aan Maroela Media. “ʼn Gehoor gee vir my van hulle tyd om na my op die verhoog te kom kyk en daarom moet ek vir hulle ook iets gee om saam met hulle huis toe te neem. Gewoonlik gee ek ʼn stukkie optimisme. Ek wil my gehoor laat besef Suid-Afrika is regtig steeds die mooiste land in die wêreld en hier word jy deur die aangenaamste mense in die wêreld omring.
“Maar ons het probleme, ons het gróót probleme en die een manier wat ons eintlik hierdie kwessies kan hanteer, is om ʼn bietjie te lag vir ons vrese.”
Uys glo vrees is die een ding wat jou net banger maak as jy bly wegkyk.
“As jy egter jou vrese in die oë kan kyk, gaan dit nooit langer of groter as jy kan wees nie. Jy gee daardie vrees ʼn naam en jy lag hom uit. Dit is wat ek probeer doen in my werk.”
Hy gebruik die EFF met hulle rooi barette en hulle dreunsang van “ons gaan die land vat, ons gaan jou plaas en jou huis vat” as ʼn voorbeeld. “Tannie Evita sou sê: ‘Ja, ja, al hierdie gepraat beteken maar min, maar ons hoop dit gebeur darem nie al oormôre nie. Intussen kan jy vir jouself maar ʼn rooi baret gaan koop en hou dit maar in jou huis. As hulle dan aan jou voordeur kom klop, maak jy die deur oop met jou baret op jou kop en sê net vir hulle jy was eerste hier, so wê’.
“So kan ʼn mens darem begin lag vir die nonsens, al maak dit die retoriek sekerlik nie minder gevaarlik nie.”
ʼn Nuwe produksie
In Uys se jongste produksie #HeTwo, wat binnekort in die Pieter Toerien-teater by Montecasino in Johannesburg begin, wonder hy juis nou of dit dalk seksisties of teistering is om ʼn vrouekarakter te vertolk.
Dit was die opspraakwekkende #MeToo-veldtog, waar aktrises wêreldwyd saam standpunt ingeneem het teen misbruik in die rolprentbedryf, wat hom hieroor aan die dink gekry het.
“Ek het oor die veldtog nagedink en gewonder maar wat van ons ouens. Dit is belangrik dat ons ook deel is van hierdie gesprek.”
Die “Too” het vir hom ʼn “Two” geword en dit het vir Uys beteken dat hy en Evita nou saam op die verhoog kan verskyn – iets wat nog nooit voorheen in ʼn teater gebeur het nie.
“Ek het soveel wonderlike visuele materiaal van Evita saam met bekende politici soos Madiba, Pik Botha en Piet Koornhof wat ek kan wys. Evita gesels dan ook uit die skerm met my en berispe my omdat ek vrou speel.
“Sy dink dit is onvanpas vir mans om vroueklere te dra en ondersteun die #MeToo-veldtog ten volle.”
Uys sê ewe tong in die kies dit is vir hom snaaks om te dink Evita loop werklik daar buite rond. Hy hoop ook nie hy ontmoet dié tannie werklik eendag van aangesig tot aangesig nie.
Hulle interaksie op die verhoog is volgens hom ʼn spanningsvolle oomblik, maar “dit moet so wees, want dit is deel van die drama van ons verhouding”.
Uys sê mense wil dikwels nog by hom weet hoe het die karakter begin. “Sy het in 1978 ontstaan en in 1981 vir die eerste keer op die verhoog verskyn. Sy was eintlik veronderstel om nog een van 13 karakters vir die stuk Adapt or Dye te wees. Om die waarheid te sê, sy het nie eens ʼn naam gehad nie.
“Ek het haar net ‘tannie’ genoem en iemand anders het haar toe ‘die Evita van Pretoria’ gedoop. Dit was natuurlik in die tyd van die inligtingskandaal en so het Evita toe net op die regte tyd gekom met die realiteit van tuislande.”
Uys sê Evita het haar eie tuisland gekry en Pik Botha was haar baas. “Pik het natuurlik saamgespeel, want hy het ʼn wonderlike sin vir humor gehad.
“En hier is sy al die tyd nog steeds. Sy is deesdae ʼn lid van die ANC, iets wat dié party natuurlik baie senuweeagtig maak.”
- Esté Meyer Jansen het telefonies met Pieter-Dirk Uys gesels oor sy jongste teaterstuk #HeTwo. Luister na die volledige onderhoud boaan hierdie berig.
- Speelvak 1: #HeTwo word van 31 Julie tot 18 Augustus in die Pieter Toerien-teater in Johannesburg by Montecasino aangebied. Bespreek by Computicket.
- Speelvak 2: Die volgende speelvak is van 28 Augustus tot 14 September in die Theatre on the Bay in Kampsbaai. Bespreek by Computicket.
- Speelvak 3: Daarna sal die produksie ook van 10 tot 24 November in die Elizabeth Sneddon-teater in Durban gesien kan word. Bespreek by Computicket.
Die wenners is:
Baie geluk aan Mara Venter, Daleen Vorster, Adri le Grange en Chanel Vermeulen wat die wenners van hierdie kompetisie is. Maroela Media stuur binnekort vir julle ʼn e-pos met meer besonderhede oor die kaartjies.