[WEN] Schalk Bezuidenhout in Atterbury-teater

Schalk-Bezuidenhout

Schalk Bezuidenhout (Foto: Verskaf)

As jy middel-Junie tydens die langnaweek jouself in Jan Tuisbly se karretjie bevind het jy drie geleenthede om Schalk Bezuidenhout, die krulkopkomediant met sy kenmerkende truitjies, te sien optree in die Atterbury-teater in Pretoria.

Hy tree vir drie aande – 15, 16 en 17 Junie – in dié teater op met sy nuwe solovertoning Voksbesit.

Bezuidenhout is ʼn opwindende nuwe stem in Suid-Afrikaanse komedie. Sedert hierdie boorling van Kempton Park in 2015 in Trevor Noah se voorprogram opgetree het en ’n solovertoning op Comedy Central uitgesaai is, het hy baie vinnig ’n huishoudelike naam in Suid-Afrika geword.

Bezuidenhout het in 2015 ’n gesogte Kanna-toekenning gewen as beste opkomende kunstenaar by die KKNK. Hy het intussen ook twee Comics Choice-toekennings ontvang.

Bezuidenhout is ook deesdae gereeld op televisie te sien: Of hy nou op die Via-kanaal besig is om meisies op Die kliek te lei na romantiese uitstappies, die geliefde Danny vertolk in die kykNET-reeks Hotel of vlymskerp waarnemings deel in die satiriese Jou nuusminuut, een ding is’n feit: Schalk Bezuidenhout laat mense skaterlag.

“Die Atterbury-teater is vir my een van die mooiste teaters en lekkerste plekke in die land om in op te tree,” sê hy, wat juis in Augustus verlede jaar sy eerste Afrikaanse DVD, Schalk Bezuidenhout lewendig, daar opgeneem het.

“Pretoria het no nonsense gehore, hulle is daar om te lag en dis wat hulle doen,” sê hy. “Ek het nogal ’n kans gevat om drie aande daar aan te pak oor ’n langnaweek, maar ek is nie gestres daaroor nie, want ek weet my Pretoria-aanhangers kom ondersteun my altyd.”

Kom kyk hoe Schalk in Voksbesit die draak steek met homself en hoe hy al wat heilige koei is na die slagpale lei. Hierdie is ook die laaste drie vertonings van Voksbesit wat Schalk vanjaar in Pretoria beplan.

WEN: Twee lesers kan elk ʼn dubbelkaartjie wen na Voksbesit in die Atterbury-teater in Lynnwood, Pretoria. Om in te skryf, stuur jou naam, van, kontaknommer, woonadres en jou antwoord op die volgende vraag na [email protected]: Wat is die naam van Schalk se karakter in die kykNET-reeks Hotel? Die kompetisie sluit Donderdag 8 Junie. Wenners word per e-pos in kennis gestel. Bepalings en voorwaardes geld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.