Wenners van ATKV-Tienertoneel 2018 aangewys

Die Hoërskool Eldoraigne se “WAT!? – ’n Absurde drama” deur Joshua Lotz is ’n soort absurde teaterstuk wat in ’n restaurant afspeel. Die “kelners” spreek alles wat eksistensieel is met ’n tikkie donker humor aan (Foto: ATKVSA)

Jong voornemende teatermakers het die afgelope week die Roodepoortteater se verhoog warm gespeel, gehore vermaak, ontroer en bekoor om uiteindelik ’n kans te staan om as die wenner van die 54ste ATKV-Tienertoneelfinaal gekroon te word. Die beoordelaars het behoorlik kopgekrap, maar uiteindelik het die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch hulle die meeste met hul produksie tot stof l tot stilte – ’n paniekreaksie beïndruk.

Die produksie in die tweede plek is Eden, aangebied deur die Hoërskool Eldoraigne van Centurion. Die Hoërskool Tygerberg van Kaapstad is as die derdeplekwenner met Vlot ter see aangewys.

In ’n splinternuwe afdeling vir ’n hele Tienertoneelgeselskap – van die regisseur, skrywer, spelers en die tegniese operateurs – wat uit slegs hoërskoolleerders bestaan, het Helpmekaar Kollege van Johannesburg se NET NÓG EEN koning gekraai. Die ATKV het die afdeling gevestig om ’n skeppende gees onder die leerders aan te moedig. Die positiewe gevolg was dat 23 toneelstukke in hierdie splinternuwe afdeling deelgeneem het, waarvan vier produksies na die finaal genooi is.

Die wengroep ontvang R30 000, die ATKV-Tienertoneelwisseltrofee en ’n speelvak tydens die Klein Karoo Nasionale Kunstefees van 2019. Die naaswenner ontvang R20 000. Die toneelgroep wat in die derde plek aangewys is, ontvang R10 000. Die beste produksie deur slegs leerders ontvang prysgeld van R10 000.

Die 19 produksies wat na die ATKV-Tienertoneelfinaal uitgenooi is, het tydens 11 ATKV-Tienertoneelstreeksfeeste en 195 produksies gewys wat in hul steek om saam met die beste van die bestes te kom meeding.

Die finaliste was:

  • Afrikaanse Hoër Seunskool met Klub SINK
  • Helpmekaar Kollege met NET NÓG EEN*
  • Helpmekaar Kollege met GesertifiSEER: Die Musical
  • Hoër Meisieskool Bloemhof met tot stof l tot stilte – ’n paniekreaksie
  • Hoërskool Eldoraigne met Eden
  • Hoërskool Eldoraigne met WAT!? – ’n Absurde drama*
  • Hoërskool Hugenote met Skote
  • Hoërskool Louis Trichardt met Ink
  • Hoërskool Martin Oosthuizen met Sirkus
  • Hoërskool Noordheuwel met Anna-Maria Davidtz van Dik-Daan van Diepgezet
  • Hoërskool Noordheuwel met Tot die dood ons skei*
  • Hoërskool Tygerberg met Mister M en sy Mense
  • Hoërskool Tygerberg met Toneel vir my*
  • Hoërskool Tygerberg met Vlot ter see
  • Hoërskool Wilgerivier met Christmas Shopping
  • Hoërskool Zwartkop met Paradysstraat (alles behalwe ’n musical)
  • Potchefstroom Gimnasium met Dierepubliek
  • Potchefstroom Gimnasium met Duskant Vlees(baai)
  • Windhoek Gimnasium met Vas

* Ding mee in die afdeling vir slegs leerders.

Die beoordelaars tydens die finaal was Ismail Mahomed, Gerben Kamper, Ira Blanckenberg, Tara Notcutt, André Stolz en Marlo Minnaar.

Tienertoneelteksprys

Die doel van die Tienertoneelteksprys is die daarstelling van goeie, nuwe opvoerbare eenbedrywe vir skole. Al die nuutgeskrewe tekste wat ingeskryf word vir ATKV-Tienertoneel kom ook in aanmerking vir die prys vir die beste nuutgeskrewe Tienertoneelteks van die volgende jaar. Wim Vorster en Ilse Oppelt het 102 nuutgeskrewe tekste van 2017 deur die loop van 2018 beoordeel.

Die beste nuutgeskrewe Tienertoneelteks is hierdie jaar aan Johann Smith vir Plekke! toegeken. Hy ontvang R5 000 en ’n goue ATKV-erepenning.

Plekke! (aangebied deur die Afrikaanse Hoër Seunskool) het tydens verlede jaar se finaal in die derde plek geëindig. Johann stap egter nie net weg met die eerste plek nie. Hy word ook as die naaswenner aangewys vir Kaleb van Aleppo en ontvang ’n silwer-ATKV-erepenning en R3 000 se prysgeld. In die derde plek is Andries Cilliers vir Die Huis van Dawid. Hy ontvang ’n brons-ATKV-erepenning en R1 000 se prysgeld.

Die pryswenners in die ander kategorieë is soos volg:

Beste klankoperateur:
Marisca Engelbrecht van die Hoër Meisieskool Bloemhof vir tot stof l tot stilte – ’n paniekreaksie

Beste beligtingsoperateur:
Ané Conradie van die Hoër Meisieskool Bloemhof vir tot stof l tot stilte – ’n paniekreaksie

Beste verhoogbestuurder:
Wilné Kotzé van die Hoërskool Louis Trichardt vir Ink

Beste hantering van tegniese aspekte:
Die Hoërskool Eldoraigne vir Eden

Beste ensemblewerk:
Eden van die Hoërskool Eldoraigne

Mees belowende spel in ’n rol deur ’n meisie:
Kerscha Titus as Sofie in die Hoërskool Tygerberg se Mister M en sy Mense

Mees belowende spel in ’n rol deur ’n seun:
Stehan Odendaal in die Hoër Meisieskool Bloemhof se tot stof l tot stilte – ’n paniekreaksie

Beste aktrise in ’n ondersteunende rol:
Charné Boesak as Sara in die Hoërskool Hugenote se Skote

Beste akteur in ’n ondersteunende rol:
Wilco Meyer as Villie in Paradysstraat (alles behalwe ’n musical)

Beste aktrise in ’n hoofrol:
Minke Marais as Anna-Maria in Anna-Maria Davidtz van Dik-Daan van Diepgezet en
Zandélle Meyer as Olivia in Duskant Vlees(baai)

Beste akteur in ’n hoofrol:
Valentino Valentyn as Mister M in Mister M en sy Mense

Beste regisseur:
Èmil Haarhoff en Barend Mynhardt vir Eden 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Retha ·

Veels geluk aan ‘n ieder en een! Tienertoneel is heilig!! Doen so voort! Spesiale geluk aan Wilco van Hoërskool Zwartkop in Paradysstraat en Johann Smith vir jou toekennings.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.