“Werkloosheid is ʼn avontuur. Dit onderskei man van muis. Drink of droom.”

Rachelle Greeff Foto: Lapa

Rachelle Greef se Buitepos is ʼn aangrypende verhaal – vir ʼn oomblik is jy waarlik deel van Karel Wol (Marko van der Colff) se lewensverhaal.

Van der Colff lewer ʼn geloofwaardige vertolking van Karel Wol wat op die (fiktiewe) Karoodorpie, Buitepos, woon. Die stuk is soos ʼn ingewikkelde legkaart, en jy moet op die punt van jou stoel bly sit om seker te maak dat jy elke stukkie in die regte gaatjie gaan inpas. Dit is egter nie moeite nie, Greeff se dialoog hou jou vasgenael.

Dit is asof die lewe vir Karel Wol telkens een tree vorentoe, twee treë agteruit is. Sy liefde vir ʼn bruin vrou in ʼn tyd wat dit in Suid-Afrika nie wettig was nie en die afsterwe van sy ma is maar van die kwessies waarmee Karel nóú moet worstel. Karel is op soek na klippe en bou ʼn klipmuur – letterlik, maar ook figuurlik tot die mate waar hy homself van ander onttrek. Hy sê self: hy is totaal alleen.

Werkloosheid is ʼn avontuur. Dit onderskei man van muis. Drink of droom,” sê Karel Wol. En Karel volg die droom-roete. Hy spook met die herinneringe aan sy ma (Deidré Wolhuter) en sy geliefde Klara (Jill Middelkop), hy sukkel om die verlede te vergeet, maar hoofsaaklik om homself te vergewe.

Dié stuk van die talentvolle Greeff is verseker die moeite werd om te sien.

Buitepos wys weer 6 Maart by die US Woordfees en in April by die Absa KKNK – moenie dit misloop nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.