“Wond” wil genees

Suidoosterfees

David Johnson en Dominique Fourie. Foto: Verskaf

Die teatervertoning, “Wond” wat vanjaar by die Suidoosterfees in Kaapstad opgevoer word, is volgens Dominique Fourie, wat die rol van Mariska vertolk, ʼn produksie wat mense uit hul gemaksone sal haal.

“Dit is ʼn stuk wat mense gaan aangryp en laat dink. Daar is soveel draaie ingeskryf sodat die gehoor nooit weet wat volgende gaan gebeur nie.” Dominique sê hoewel die stuk swaar temas bespreek, handel “Wond” eintlik oor vergifnis – om mekaar, die verlede en jouself te vergewe.

“Die stuk handel oor ʼn man (Marvin, vertolk deur David Johnson) en vrou (Mariska), wat albei alleen, gewonde, gefragmenteerde siele is, wat funksioneer in die gewone wêreld, maar wat met wonde sit waarmee hulle nog nie vrede gemaak het nie. Albei is op soek na liefde en vind mekaar nadat hulle ‘n aanlyntoets voltooi wat wys dat hulle 98% bymekaar pas,” verduidelik sy.

Die stuk begin na hul eerste ontmoeting, waar Mariska vir Marvin na haar huis nooi vir koffie en van daar vat die storie vlam.

Dominique sê dié stuk daag nie net teatergangers uit nie, maar het ook die akteurs uit hul gemaksone gehaal. Sy praat met lof van die regisseur, Heinrich Reisenhofer en skrywer, Charles J Fourie. Dis baie duidelik dié span is vol passie oor hul produksie.

Die stuk het ʼn ouderdomsbeperking van 18 jaar en Dominique sê hoewel dit nie eintlik vir kinders bedoel is nie, is daar niks vulgêr daarin nie. “Jy moet al bietjie lewenservaring hê om die stuk te verstaan.”

“Ons is baie opgewonde om die stuk lewe te gee en te laat hardloop. Ons het hard gewerk en glo aan dié produksie se boodskap. Ons wil definitief ʼn lewe vir hierdie stuk na die fees ook gee.”

Besoek gerus “Wond” se Facebook-blad vir meer besonderhede, of koop jou kaartjies hier.

“Wond” is op die planke op Vrydag 29 April om 16:30, Saterdag 30 April om 13:30 en Sondag 1 Mei om 18:30. Die tydsduur is 60 minute. Kaartjies kos R110 elk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.