Teken, my terapie

Yolande van den Berg

Deur Yolanda Wessels

Yolande van den Berg was van kindsbeen af versot op diere, musiek en teken, en dit sou ʼn deurlopende liefde word wat strek tot ʼn loopbaan van kuns, dankbaarheid en teruggee aan die mensdom.

Yolande (haar ma het haar dié naam gegee wat rym met mielielande – of as sy kon kies, gebaseer op Breyten Breytenbach se vrou se naam) is op 16 Oktober 1983 in Potchefstroom gebore. Haar ma het drama studeer en haar pa regte. Hulle het saam in ʼn kommune gewoon en later ouers geword. Van vroeg af was diere, musiek en teken vir haar baie belangrik.

“My pa het my grootgemaak met die musiek van Cat Stevens, Queen en Suzanne Vega. My ma het vir my verf en speelklei gekoop, baie vir my gesing en met my gedans en die son het, soos vandag nog, geskyn elke keer as sy by ʼn vertrek instap. My pa was my held en die slimste man wat ek ken.”

Toe Yolande in graad 1 was, het die gesin Pretoria toe getrek. Sy was in Laerskool Anton van Wouw en later in Afrikaanse Hoër Meisieskool. Op 6-jarige ouderdom het haar ma haar laat kunsklasse neem by Madelein Marincovitz, wat tot vandag ʼn wonderlike invloed het op haar lewe en haar siening van kleur en bewegings van lyne en vryheid baie beïnvloed het.

“Vir my 10de verjaarsdag het my oupa vir my ʼn klavier gegee. Om in die koor te sing, tennis te speel en te teken was my gunstelingtydverdryf. Ek het ook ballet geneem tussen die ouderdom van 3 en 16 jaar.”

Op 11-jarige ouderdom het sy harsingskudding opgedoen wat letterlik ʼn harde hou vir die jong meisie was. Dit het later aan die lig gekom dat sy ʼn ernstige breinbesering gehad het, wat in haar twintigs ontwikkel het in temporale lob-epilepsie.

Nagvrees was van kleins af ʼn probleem en dit bly steeds ʼn struikelblok, al het ek mettertyd geleer om dit makliker te aanvaar. My oupa het plase in Messina (nou Musina) gehad − kremetarte, Mopani en klipkoppies was my happy place en ek het die meeste van my vrye tyd en vakansies daar deurgebring. Dit is ook waar ek leer bekfluitjie speel het. Vroegoggende het ek ver in die veld gaan stap met ons honde, op ʼn klipkoppie gaan sit en stiltetyd hou, kliphard gesing en myself herinner aan hoe bevoorreg ek is.”

Yolande besig met ‘n kunswerk. (Foto verskaf)

Ná skool het sy begin foto’s neem, ʼn graad in landskaptegnologie verwerf en met Jabiru-vliegtuie begin vlieg by Kitty Hawk. “Om verder vir my lisensie te betaal, het ek as lugwaardin gekwalifiseer. My eerste werk was in Dubai, waar ek gereeld Bagram- en Afghanistan-toere onderneem het. Later het ek kontrakwerk vir Naturlink (nou NAC) gedoen. Kongo, Gaboen en die Verre Ooste was waar ek die meeste toere moes doen, en dit het ʼn groot impak gehad op my lewensuitkyk en my laat voel dat ek besig was om ‘groot te word’.”

Gedurende die toere het sy soveel landskappe uit die lug bekyk wat haar persepsie gou verander het. Dit het later van tyd ʼn groot invloed op haar kuns gehad.

Na ʼn paar jaar het sy opgehou met die toere en permanent teruggekeer na Suid-Afrika. Sy is getroud met ʼn ingenieur wat sy deur haar vriendekring ontmoet het. Hulle het ʼn mooi plaashuis-bestaan gehad op Mareetsane en ook saam rondgetrek vir sy beroep. Sy het haar tyd bestee aan fotografie en om hul dierekinders groot te maak.

Ná ʼn verhouding van ʼn dekade, waarvan hulle drie jaar getroud was, het hul paadjies geskei. “Dit het veroorsaak dat my lewenslange stryd met depressie ʼn gevaarlike punt bereik het. Om te skei is ʼn baie diep en seer trauma, wat net dié wat daardeur moes gaan werklik sal verstaan. Met die hulp van my sielkundige, kon ek dit genadiglik verwerk en my pen optel en elke dag vir ure teken.”

Yolande vertel dat haar kuns haar as’t ware ‘gered’ het uit ʼn donker en baie onseker plek. “Ek het daarin ʼn ontvlugting uit my eie klein wêreldjie gevind en elke dag, met elke prentjie, gesonder geword.” Lande Water and Ink Paintings is gebore en as ʼn gekwalifiseerde landskapsargitek, het sy vanselfsprekend ʼn liefde vir kuns. Haar inspirasie kom ook van haar tyd by NAC toe sy manjifieke landskappe vanuit die lug kon bewonder.

Haar werk het mandala-invloede, met gebroke patrone wat sy dikwels as basis gebruik. Die surrealistiese benadering in haar kuns word beïnvloed deur haar onderbewussyn. Sy gebruik ink-tekenaarspenne, waterverf en verkies Fabriano-papier. Baie van haar kunswerke word gedoen op 300 mg koudgeperste papier.

(Foto verskaf)

Alhoewel die lewe ander draaie met haar gevlieg het en sy baie graag ʼn mamma van haar eie kinders wil wees, het sy daarby berus dat sy haar energie en liefde kan bestee aan ander kinders en diere. “Ek oorweeg steeds om eendag ʼn mensie aan te neem vir wie ek dalk ʼn mooi begin in die lewe, vol liefde en lig, kan bied.” Sy voel baie bevoorreg om haar kuns met ander te kan deel en uiting te gee aan hoe sy die wêreld, op aarde en uit die lug, tot dusver beleef het.

ʼn Lieflike mede-kunstenaar met die mooiste hart, Liza Roets (Elizabeth Studios), het haar lewenspad gekruis en hulle het onlangs begin om hul kreatiwiteit te kombineer met Yoliza Designs.

Liza is die skepper van unieke handgemaakte glasjuwele waarin natuurlike elemente, soos die son, see en water, deurlopend teenwoordig is. Liza vertel: “Soms moet ʼn mens eers swaarkry voordat jy wysheid bekom. My versameling is ʼn persoonlike proses en ek hoop dat dit ander mense sal aanraak om ook dié verskillende emosies te voel.”

Met hierdie eksklusiewe produkte, wat elkeen ʼn unieke boodskap dra, het sy en Yolande op ʼn nuwe avontuur vertrek met Yoliza Designs. “Saam beoog ons om ʼn groot sukses te maak deur ons talente met die wêreld te deel en dalk ʼn bietjie lig en kleur aan ander te verskaf. My kuns kan op www.landewaterandink.com besigtig word en ons gekombineerde werke by Yoliza Designs.

Liefde, lig, genade, kuns, lieflike familie en vriende, en groot avonture het my geïnspireer om te doen wat nodig was om my passie te ontwikkel, sodat ek vandag ʼn vol lewe kan leef.”

Yolande sê sy het werklik besef dat God ons die vrye keuse gee om ons paadjies te kies, met al die gereedskap wat ons nodig het om deur ons aardse lewe te beweeg. “Wanneer ons glo en uiting gee aan dit wat werklik ons harte laat bly klop, kan ons elkeen ʼn bietjie liefde en lig bring op hierdie wrede, wonderlike aarde.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.