10 blitsfeite oor jou gunsteling-TV-reekse

Baie van ons bring gereeld tyd voor die televisie deur terwyl ons na ons gunsteling-televisiereekse kyk. Met stromingsplatforms soos Netflix en Showmax is dit nou makliker as ooit om die een ná die ander episode van jou gunsteling-reekse te kyk.

“Televisiereekse word ál meer gewild, veral in die tyd van die koronavirus waar ons sosiaal beperk word. Dít en die kouer weer maak dit lekker om by die huis te bly en reekse te kyk,” sê Jaco Joubert, handelsbestuurder van die internasionale elektronika-ontwikkelaaar Skyworth.

Maar selfs mense wat baie tyd aan reekse afstaan, weet nie altyd wat agter die skerms van hul gunstelinge soos Big Bang Theory, How I met your mother of Modern Family gebeur nie.

Hier is tien feite wat jy dalk nie van jou gunsteling-televisiereekse geweet het nie:

  • Die openingstonele van How I met your mother wys twee tieners wat langs mekaar op ʼn bank sit en luister hoe hul pa die storie vertel oor hoe hy hul ma ontmoet het. Hierdie tonele, wat aan die begin van elke episode speel, is alles in een seisoen verfilm om seker te maak die kinders bly dieselfde ouderdom deur die hele reeks. Dit beteken selfs die finale toneel is reeds in die eerste seisoen opgeneem en die twee “kinders” het geweet wie hul ma was baie jare voor die reeks klaargemaak het. Hulle moes dit vir die hele duur van die reeks ʼn geheim gehou het.
  • Toe Mila Kunis vir haar oudisie vir die rol van Jackie Burkhart in That 70’s show gegaan het, het sy gejok oor haar ouderdom. Die vervaardigers was op soek na ʼn aktrise wat 18 jaar oud is, maar Kunis was slegs 14. Sy het in die oudisie gesê dat sy “18 word”, maar nie verklap wanneer dit sal wees nie.
  • Die geweer-logo van The Sopranos is eers later bygevoeg sodat daar nie verwarring is oor waaroor die reeks gaan nie. Die oorspronklike ontwerper van die logo het gedink die reeks gaan oor sangers nadat hy die titel gelees het.
  • Die eerste keer dat die woord “google” as ʼn werkwoord gebruik is, was in ʼn episode van Buffy the Vampire Slayer. In die finale seisoen van die reeks het Willow aan Buffy gevra: “Have you googled her yet?”
  • Die vier mansakteurs in The Big Bang Theory was in 2018 die hoogs betaalde akteurs voor die televisiekamera. Die reeks van 12 seisoene het in 2019 geëindig.
  • Nolan Gould as Luke Dumphy (Foto: Facebook)

    Nolan Gould, wat die rol van Luke Dunphy in Modern Family vertolk, is baie slimmer as wat sy karakter voorgee. Hy het hoërskool op 13-jarige ouderdom voltooi en is ʼn lid van Mensa, ʼn organisasie vir mense met die hoogste IK-tellings ter wêreld.

  • Peter Dinklage was die eerste en enigste keuse vir die rol van Tyrion in Game of Thrones. Niemand anders is ooit vir die rol oorweeg nie.
  • Die rol van Hannah Baker in 13 Reasons Why is amper vertolk deur Selena Gomez, maar sy het besluit om eerder as uitvoerende vervaardiger van die reeks op te tree. Katherine Langford het toe die rol gekry ná sy ʼn oudisie oor Skype gedoen het.
  • Om die rolverdeling vir die reeks Stranger Things te kies, het 906 seuns en 307 meisies oudisies afgelê, voordat die vervaardigers op die hoofkarakters besluit het.
  • Jason Bateman was veronderstel om die regie van die eerste seisoen van Ozark te hanteer, maar nadat hy geïnteresseerd geraak het in die karakter van Marty Byrde, het ʼn ander regisseur oorgeneem. Laure Linney, wat Wendy Byrde vertolk, het eers begin belangstel in dié rol nadat sy gehoor het sy sal teenoor Bateman speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.