10 feite oor ‘Wie word ʼn miljoenêr?’

Die stel van Wie word ‘n miljoenêr? (Foto: Verskaf)

Van 27 Oktober af word Wie word ʼn miljoenêr? elke Woensdag om 20:00 op kykNET uitgesaai. Daar sal 26 episodes van dié gewilde vasvrareeks uitgesaai word.

Volgens Cecil Barry, uitvoerende vervaardiger, sal die Afrikaanse weergawe getrou aan die oorspronklike Britse weergawe van Who wants to be a millionaire? bly, maar talle van die vrae sal die program se Suid-Afrikaanse identiteit weerspieël.

Hier is tien interessante feite oor dié speletjiesprogram, wat deur Red Pepper Pictures by Atlantic Studios in Kaapstad, wat ook die tuiste van ander kykNET-reekse soos Suidooster en Kwêla is, vervaardig is:

  1. Daar is oulike Afrikaanse benamings vir die bekende hulplyne – “Ask the audience” is “Oor na die gehoor” en “Phone a friend” is “Bel ʼn pel”. Die derde hulplyn is 50/50, wanneer daar twee van die verkeerde opsies van die vier moontlike antwoorde verwyder word en een regte en een verkeerde antwoord oorbly. Vir “Oor na die gehoor” word die gehoor in die ateljee gevra om vir die regte antwoord te stem. Met “Bel ʼn pel” mag die deelnemer ʼn kennis bel wat dan binne 30 sekondes vir die deelnemer moet help.
  2. Daar is meer as 2 000 inskrywings binne twee weke ontvang en almal wat ingeskryf het, moes ʼn kort algemenekennistoets aflê. Diegene wat deurgedring het tot ʼn volgende ronde moes ʼn individuele onderhoud en ʼn tweede algemenekennistoets aflê. Op die ou einde is daar 156 kandidate gekies wat oor 26 weke meeding.
  3. In elke episode speel ʼn groep van ses mense “Vinnigste vingers” vir ʼn plek in die vuurwarm stoel, of soos die Britte dit noem die “hot seat”. “Vinnigste vingers” is die gelykmaker en bepaal wie in elke ronde in die vuurwarm stoel gaan beland. Dié spel vereis dat die deelnemers vier opsies in ʼn spesifieke volgorde plaas – byvoorbeeld chronologies, alfabeties, oud na jonk, noord na suid of volgens datum.
  4. Daar is twee vangnette by R10 000 en R40 000, waar ʼn deelnemer geld kan bank en sal waarborg dat die deelnemer met ʼn minimum bedrag huis toe kan gaan. Spelers het altyd die opsie om weg te stap met die geld wat hulle tot op ʼn sekere vlak op die prysleer gewen het. Om die R1 miljoen te kan wen, moet ʼn deelnemer 15 vrae korrek beantwoord.
  5. Die aanbieder, Rian van Heerden, wat ook bekend is as ʼn omroeper op Jacaranda FM, het al voorheen ʼn speletjiesprogram, Op die spel, op kykNET aangebied. In Op die spel is deelnemers se Afrikaanse spel- en taalvaardighede getoets.
  6. Dit is ʼn geheim wie die vraagopstellers is. Die vrae word deur ʼn paneel nagevors en moet volgens ʼn formule van die internasionale formaat saamgestel word. Dan is daar ʼn ander span wat die feite moet nagaan, enige dubbelsinnigheid moet verwyder en ook die moeilikheidsgraad moet toets.
  7. Die sekuriteit rakende die vrae is baie streng en die “spel-en-vrae-rekenaar” word toegesluit in ʼn hoë sekuriteitsvertrek waartoe slegs die operateur, ouditeur en vervaardiger toegang het. Die rekenaarstelsel is van die buiteland af ingevoer en spesifiek vir die Suid-Afrikaanse formaat ontwerp. Die sagteware wat die hele program dryf, word ook vooraf gelaai – selfs met Afrikaanse spelling.
  8. Daar is streng standaarde waaraan Wie word ʼn miljoenêr? moet voldoen oor dit deel is van die internasionale Who wants to be a millionaire?-formaat. Die logo word wel bietjie aangepas vir die betrokke land, maar moet getrou bly aan die Who wants to be a millionaire?-handelsmerk. Die stelontwerp van Wie word ʼn miljoenêr? is ʼn plaaslike interpretasie van verskeie internasionale weergawes, maar baie van die elemente is universeel. Die vervaardigers ontvang van Sony International, wat die regte van Who wants to be a millionaire? besit, ʼn “formaat-bybel”. Dit bevat baie streng reëls, regulasies en riglyne, en dien ook as ʼn
  9. Die stel se klank, ligte en grafika op die verskillende skerms word deur een sentrale rekenaarstelsel beheer. Die LED-skerms wat op die vloer en agter die aanbieder en deelnemer verskyn, is saam met die beligting aan dié stelsel gekoppel sodat alles gesinchroniseer is.
  10. Die produksiespan bestaan uit ongeveer 20 lede, terwyl daar sowat 25 tegnici is, wat onder meer die kamerawerk, regie, klank en beligting hanteer. Daar is talle ander mense wat ook agter die skerms werk, soos stelbouers.

Rian van Heerden is die aanbieder van Wie word ‘n miljoenêr. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
AW

En Vir Hoe Lank Gaan Daardie Ses 0’s Hou??

Michael

Die prysgeld van een miljoen is darem baie min in vergelyking met ander lande. Hulle kon dit ten minste 10 miljoen gemaak het

daarsdit

Snaaks dat so baie mense ingeskryf het, niemand wat ek ken het eers geweet van die program nie.

Peter Pan

Dis net jammer ek kon nie kyk agv loadshedding nie…