15 minute saam met M-Net se uitvoerende hoof

Foto: mnetcorporate.co.za

Yolisa Phahle. Foto: mnetcorporate.co.za

Yolisa Phahle (50), die vrou wat in 2014 as uitvoerende hoof van M-Net Suid-Afrika aangestel is, het vanjaar se Silwerskermfees in Kampsbaai bygewoon. Maroela Media het die geleentheid gekry om met dié indrukwekkende vrou oor haar werk en lewe te gesels.

Van musikant tot media-magnaat

Vir ʼn persoon wat haar man kan staan in ʼn korporatiewe werkomgewing, is ʼn mens aangenaam verras om te hoor dat Yolisa Phahle eintlik ʼn musikant in murg en been is. Sy is in Brittanje gebore en getoë en het daar ook opleiding in klassieke klavier en viool gekry. Sy was selfs in die Britse musiekgroep Soul II Soul. Dié groep het verskeie treffers gehad en het ʼn lys van pryse agter hul naam. Phahle het ook saam met groepe soos Duran Duran en kunstenaars soos Prince opgetree.

“Die werk as musikant het baie radio- en televisieonderhoude ingesluit, en ek was elke keer gefassineerd wanneer ons in ʼn radio- of televisieateljee instap. Toe ek op ʼn dag die geleentheid kry vir ʼn internskap by die BBC se wêrelddiens, het ek dadelik aansoek gedoen.”

Sy het in 1998 by die BBC begin werk en van dáár die leertjie geklim – van ateljeebestuurder tot musiekvervaardiger by BBC 6 Music, dié maatskappy se eerste digitale radiostasie. Sy het in 2004 wortels in Suid-Afrika kom skiet as Channel O se algemene bestuurder. Die res is geskiedenis.

Hoewel sy nie musiek meer op professionele vlak beoefen nie, maak sy en haar gesin steeds tuis musiek. “Ek het ʼn klavier by die huis, my kinders speel musiek en my man is ʼn musikant, so daar is baie musiek in die huis.”

Word vroue in magsposisies soms onderskat?

Phahle meen indien dit die geval is, moet mans nie noodwendig blameer word nie. Vroue wat wél in magsposisies is, moet hard werk om sake ten goede te verander. “Ons is baie goed om na die tegniese sy van die bedryf soos begrotings en versekering te kyk, maar ons moet dalk meer fokus op die mense wat deel is van die produksie en seker maak daar is ʼn verteenwoordigende groep van mans sowel as vroue. Daar moet gelyke geleenthede geskep word.”

Boodskap aan jonges wat haar as rolmodel beskou?

Sy sê dit is ʼn groot verantwoordelikheid wat sy nie as vanselfsprekend aanvaar nie. “Daar was baie mense op my pad wat my ʼn kans gegee het en wat my toegelaat het om foute te maak sodat ek daaruit kon te leer. My boodskap aan jonges is om hard te werk, nooit moed op te gee nie, al is dit hoe moeilik. En om na mense te soek wat bereid is om jou ʼn kans te gee.”

Wat wil sy nog bereik?

“Soos wat ek ouer word besef ek al hoe meer dat dit nie oor myself gaan nie, maar oor die geleenthede wat ek vir ander mense kan skep. Dit sal wonderlik wees as ons nuwe talent die geleentheid kan gun om hul merk te maak in hierdie bedryf, plaaslik sowel as internasionaal. Dit is op my wenslysie – om iemand se lewe ten goede te verander.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.