‘7de Laan’-aktrise, 3 sangers sê koebaai vir vetjies

Mimi Mahlasela (Foto: Facebook)

Vyf bekendes in die vermaakbedryf, onder wie die 7de Laan-aktrise Mimi Mahlasela en die sanger Kevin Leo, gaan kykers dié jaar ʼn intieme blik op hul verslankingsreis gee wanneer hulle as deelnemers te sien gaan wees in die kykNET-werklikheidsreeks Slank.

Dié bekendes, wat ook die sangeresse Carina Kruger en Madel Engelbrecht en die uitsaaier en akteur Martin Jansen insluit, sal in die jongste seisoen van dié reeks begelei word deur ʼn span dokters, ʼn dieetkundige en ʼn sjef – en saam gaan hulle baklei om nie net die wintervetjies vaarwel te roep nie, maar om ʼn volhoubare en gesonder leefstyl te skep.

Die eerste episode in dié reeks is reeds Maandagaand (2 Julie) op kykNET uitgesaai. Die aanbieder is die aktrise Leandie du Randt-Bosch.

“Die televisiereeks fokus nie per se op diëte nie, maar op ʼn volhoubare en gesonde leefstyl met die klem op regte kos,” lui ʼn verklaring van die produksiespan.

Dit gaan geen maklike taak wees nie, maar elkeen van dié bekendes meen hulle is gereed vir die uitdaging.

“Ek was al omtrent op elke dieet – ek moes al my kos weeg, gespuit en geshake het,” terg Kruger, lid van die musiekgroep Die Koeksisterzzz. “Ek is opgewonde om ʼn Slank-deelnemer te wees en wil graag leer hoe om die regte kosbesluite te neem, sonder om ‘lekker eet’ prys te gee.”

Hiermee stem Leo saam: Dié sanger sê hy sien uit daarna om ʼn leefstyl te begin wat hy vir die res van sy lewe kan handhaaf en wil graag deur kundiges gelei word.

Mahlasela vertel dié geleentheid sal haar leer hoe om haar eetgewoontes by haar besige leefstyl te laat aanpas. “Ek wil hierdie geleentheid gebruik om te leer wat my liggaam nodig het om gesonder te wees – veral omdat ek elke dag lang ure werk. Ek wil weet hoe om beter te kan identifiseer wat ek mag eet.”

Slank is elke Maandagaand op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien. Klik hier vir meer inligting.

Kevin-Leo

Kevin Leo (foto verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

B ·

Ek hoop hulle rapporteer ook maandeliks hulle bloedtoets resultate, bv Trig, Cholesterol, HbA1c ens. (Ook voor die aanvang van die program om basislyn te stel)

Dit behoort ‘n aanduiding te gee van hoe ‘n mens se liggaam reageer op die ‘leefstyl verandering’

DS ·

‘n Goeie vriend het my altyd gespot (as ek ALWEER op ‘n dieet was) en gese die beste dieet is om jou mond toe te hou. Sterkte met julle pad vorentoe hoop regtig dit werk vir julle op die lang termyn ook. Ek is baie lief vir lekker eet daarom glo ek aan “cheat” dae net om die lus weg te kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.