‘7de Laan’ se Marijke Bezuidenhout: Klein botteltjie, groot gif

Marijke Bezuidenhout kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Sprankelend is die woord wat by ʼn mens opkom wanneer jy die aktrise Marijke Bezuidenhout (25) wil beskryf.

Dié borrelende bondeltjie energie sê sy verkies om nie vir ʼn oomblik stil te sit nie. Nie net is sy te sien as die rabbedoe Mienkie in die SABC2-sepie 7de Laan nie, maar is sy ook ʼn professionele danser, Pilates-instrukteur, entrepreneur en gesogte fotograaf.

Sy is gek oor haar rol in 7de Laan, ʼn sepie waarin sy speel teenoor bekende Afrikaanse akteurs soos Amor Vittone en Marcus Haywood.

“Mienkie is wild. Ek het baie vinnig lief vir haar geraak. Sy is nie ʼn louwarm karakter nie en jy gaan óf baie lief wees vir haar, óf jy gaan haar haat. Diep in haar het sy ʼn goeie hart, sy het net nie goeie rolmodelle in haar lewe gehad nie,” vertel Bezuidenhout in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Marijke Bezuidenhout. (Foto: Lora Photography)

Marijke Bezuidenhout. (Foto: Lora Photography)

Sy glo nie dat sy en Mienkie in die regte lewe vriendinne sou wees nie. “Mienkie sou beslis dink dat ek te vervelig is,” lag sy en erken prontuit dat sy ietwat van ʼn huishen is.

“Sy sou gedink het ek drink te veel tee! Ek is glad nie ʼn partytjiedier nie. Op ʼn Vrydagaand is buite die huis die laaste plek waar ek wil wees. Ek gaan ook nie na nagklubs toe nie – ek kan nie aan iets erger dink nie!”

Sy bieg ook dat sy nog nooit in haar lewe ʼn babelas gehad het nie. “Dit lyk verskriklik op ander mense, so ek vermy dit liewer,” lag sy.

Bezuidenhout, wat slegs 1,63 m in haar skoene staan, het op ʼn sitrusplaas naby Mbombela (Nelspruit) grootgeword, maar is tans ʼn Pretorianer, waar sy onder meer Pilates-klasse aanbied wanneer sy nie op die stel van Die Laan is nie. Haar fotografiemaatskappy, Moi Lens Fotografie, spesialiseer in paar- en troufoto’s en word ook in die Jakarandastad bedryf.

“Ek het my hele lewe lank gedans en toe ʼn dansbesering gekry en moes ʼn groot heupoperasie ondergaan. Dit is tóé dat ek Pilates ontdek het en besef dit is die beste ding wat ek vir my lyf kan doen.”

Sy het ondernemingsbestuur studeer en het ʼn stewige kop op haar lyf vir sake. In Oktober vanjaar het sy ʼn aanlynklerewinkel, Honeycomb Clothing Collective, begin. Oor dié onderneming is sy baie opgewonde.

Marijke en haar kêrel, Marco Nel. (Foto: Instagram/Marijke Bezuidenhout)

Marijke en haar kêrel, Marco Nel. (Foto: Instagram/Marijke Bezuidenhout)

“Ek bestel die klere van die buiteland en ek probeer goed kry wat nie in ons winkels beskikbaar is nie. Daar het vandag weer nuwe voorraad aangekom, en dit is só lekker om die pakkies oop te ruk. Dit voel of ek elke keer geskenke kry!”

Sy en haar kêrel, Marco Nel (25), is drie jaar saam, en het saam grootgeword. Al het hul skoolverhouding aanvanklik skipbreuk gely, het hulle vriende gebly.

“Hy het ná my heupoperasie my kom ondersteun die hele ent van Stellenbosch af en ons het toe van voor af verlief geraak,” sê sy, haar oë blink.

“Ons is heeltemal teenoorgestelde soort mense. Hy hou van reguit lyne en met hom is alles swart of wit – geen grys areas nie. Vir my is daar weer baie grys areas! En as hy kon, sou hy op ʼn plaas wou woon, maar ek dink die plaas sou te stil raak vir my.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.