‘7de Laan’ vier mylpaal; kykers weer boos oor skuif

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Hoewel die gewilde SABC 2-sepie 7de Laan op 9 Maart vanjaar ʼn groot mylpaal bereik wanneer dié program se 4 000ste episode uitgesaai word, is kykers wéér warm onder die kraag nadat die openbare uitsaaier die program-omnibus op Sondae gekanselleer het.

Die sepie het vandeesweek op sy amptelike Facebook-blad gesê dié omnibus is deur die SAUK gekanselleer sodat die uitsaaier sy programskedule kan vernuwe.

Volgens die inskrywing word ʼn nuwe musiekprogram glo van eerskomende Sondag in dié tydgleuf uitgesaai.

Dit volg nadat die SAUK in Januarie vanjaar die program na die 18:00-tydgleuf geskuif het terwyl dit voorheen om 18:30 uitgesaai is.

Die SAUK het Maandag in ʼn verklaring gesê dié program is egter steeds ʼn “vlagskipprogram” van die SAUK wat van die meeste kykers lok, “en word steeds gevier”.

Volgens die verklaring is die 4 000ste episode van 7de Laan op 18 Januarie opgeneem en sal dit ook die sepie se 17de jaar op die kassie vier.

“Maande van voorbereiding het in elke aspek van die program ingegaan om te verseker dat dít ʼn epiese episode is,” sê Caroline Phalakatshela, ʼn SAUK-woordvoerder.

“Ons het in die geskiedenis van die sepie nog nooit so iets gedoen nie en beplan dat dié episode kykers sal verras en op die punt van hul stoele sal hou.”

Kykers gooi egter ʼn blinde oog vir dié mylpaal aangesien talle nou meen dat hulle nie meer na die program sal kan kyk nie.

“Ek mag dalk verkeerd wees, maar ek voel regtig die SAUK skuif 7de Laan aspris rond. Die sepie verloor al hoe meer kykers omdat mense nog in die verkeer sit,” skryf Petro van Schalkwyk op die program se Facebook-blad.

“Wat van die mense wat van Maandag tot Vrydag werk? Dit is die mense wat die TV-lisensies betaal, en ons kan net die omnibus kyk. Nou word dit ook van ons weggeneem,” skryf Fatima Karodia.

Die SAUK het egter voorgehou dat vernuwing belangrik is, en gesê ʼn herhaling van die program sal steeds uitgesaai word. 7de Laan-herhalings sal voortaan tussen Maandae en Vrydae om 13:00 op SABC 2 uitgesaai word, en om 13:30 op SABC 3.

Die gewilde sepie se tydgleuf het sedert sy verskyning in 2000 nog net twee keer vantevore verander toe dit sedert 4 Julie verlede jaar om 19:00 uitgesaai is.

Vir meer inligting, besoek 7de Laan se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Ontevrede ·

Omdat ons wonderlike munisipaliteit nie vir Eskom betaal het nie, begin hulle more met load shedding van 6 uur tot 8 uur en in die middae van 5 tot 19h30. Nou hoe gaan ons 7de Laan volg????? En ons betaal lisensie!!

Elize ·

Nee dis nie die waarheid nie….dit is nou Woensdag net na 13.30 en daars GEEN 7de laan herhaling oo SABC 3 nie….!!!!

ROOIKOP ·

Korreksie, dit is slegs om 13h00 op SABC 2 die herhaling gewoonlik die volgende dag….NIKS op SABC 3 nie?????

Koos1 ·

MM, dit was om 18:30 uitgesaai maar het in geskuif na 19:00 om meer getalle te lok, volgens SABC. Laas week geskuif na 18:00 om plek te maak vir die sokker (net tydelik volgens die SABC). Hulle skuif die program opsetlik so rond dat die advertensies nie meer lekker kan inkom nie. Ek vermoed dat binne 6 maande die program gaan verdwyn met die rede dat dit nie meer winsgewend is nie. Dink ook maar met die fiasco het die ondertekening van die kontrak (met Danie Odendaal) wat ook op die laaste nippertjie gedoen is!

rose ·

Ek persoonlik voel die SAUK het ons heeltemal gafaal. 7de laan kan ons nie meer Sondae kyk ni..noot vir Noot is is geskuif daar daar is nou net mooi niks om naweke na te kyk nie. Die klomp gemors wat nou vir ons opgedis word kan ‘n mens nie na kyk nie.

FLUFFIE ·

Minder kykers kan vir 7de Laan volg aangesien dit reeds om 18h00 uitgesaai word en baie mense van die werkersopset eers min of meer 19h00 by die huis kom. Ironies dat Sondag se omnibus ook nou in die slag bly. Kan skeduleerders van programme nie hul comman sense gebruik nie?

Wiebo ·

Ek sit 18:00 nog in die verkeer, en kan nie 7e laan kyk nie. Wat nou, dan is daar n herhaling die volgende dag in werksure. Kyk 7e laan van die begin af, en het nooit (WEL MISKIEN 5) episodes gemis nie. Vandat die tydgleuf onlangs verskuif het na 18;00, kan ek dit nie meer kyk nie. Het so uitgesien na Sondae se omnibus, maar dit wys nie meer nie. Dankie vir dit. Ek sal nie meer my tv lisensie betaal nie. Dit is pure moedswilligheid van die SABC!!! Good bye vir 7e laan kyk…………

Theresa ·

Soms die enigste iets redelik aangenaam om te volg op ‘n Sondagmiddag. Dis regtig venynig om dit na weeksdae te skuif wat in werkstyd val. Ag wat, net nog ‘n stupid skuif van iemand wat nie weet hoe om te beplan nie.

Blom ·

Wonder hoekom betaal ons nog tv lisensies..?!? Ons is net goed om te betaal, lisensies, belasting, BTW, boetes, etoll en nou betaal ons ook met bloed.. !! En die ander jol!!

heksie ·

EK WEIER OM TV LISENSIE TE BETAAL!!! EK WERK BEDAGS – HOE MOET EK HERHALING VAN 7DE LAAN VOLG???? VRYDAE AANDE WAS NET MUSIEK VIR N UUR (NOOT VIR NOOT) – DIS OOK AF!!! WAARNA MOET MENS KYK?? DAAR WORD DUIDELIK NIE MEER VIR AFRIKANERS VOORSIENING GEMAAK NIE. TV 1, 2 EN 3 BELAGLIK!!!! KOLLEKTEER TV GELDE BY DIE MENSE ASB……..NIE ALMAL KAN DSTV BEKOSTIG NIE

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.